Header Artwork
Agterstand in lisensies verander verantwoordelike burgers in kansvatters

Deur Alet Rademeyer

Die ANC-regering se onvermoë om iets aan die enorme agterstand in die uitreiking van rybewyse en vuurwapenlisensies te doen, is besig om woede onder verantwoordelike landsburgers te ontketen.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het verlede week aangekondig dat die grasietydperk om rybewyse te hernu weens die agterstande nou tot einde Maart 2022 verleng word. Dit verander egter niks aan die dilemma en daaglikse frustrasie van derduisende motorbestuurders nie.

Lisensiekantore en toetssentrums is soos meeste ander staatsdepartemente wat dienste moet lewer reeds geruime tyd in ’n haglike toestand. Die kantore is vuil en amptenare is lui, ongeskik en onbevoeg om hul werk te doen. Boonop word daar van mense, ook bejaardes en siekes, verwag om in die wind en weer ure lank in lang rye op uiters swak diens te wag.

Dié toestand het daartoe gelei dat talle mense, wat nie ure van hul werke kan wegbly of genoeg verlofdae het om aansoek vir hierdie en ander dokumente te doen nie, begin het om van instansies gebruik te maak wat dit namens hulle kan doen.

Dit het nou klaarblyklik daartoe gelei dat van die instansies soos sindikate te werk gaan en kop in een mus met korrupte amptenare is wat bereid is om omkoopgeld te aanvaar om te help dat sekere individue vinniger geholpe raak. In Gauteng veral is dit ’n nagmerrie nadat daar vroeër besluit is dat mense aanlyn afsprake moet maak om ’n bestuurslisensie vir die eerste keer te kry of rybewyse te hernu. Daar is bitter selde tydgleuwe beskikbaar en indien jy gelukkig is om wel een te kry, is die toetssentrum baie ver van jou huis af. Geen wonder dat tot 130 000 mense in die afgelope jaar nie opgedaag het selfs nadat hulle wel afsprake gekry het nie. Die stelsel is eenvoudig onwerkbaar.

Mbalula het vandeesweek verder olie op dié vuur gegooi toe dit bekend geword het dat ’n aanbeveling in die Staatskoerant afgekondig is ingevolge waarvan aansoekers nou boonop R250 moet betaal net om ’n aanlyn afspraak te maak. Verskeie burgerlike organisasies soos AfriForum gaan kommentaar teen die voorstelle indien.

Die chaos rondom die uitreiking van rybewyse het net soos in die geval van die hernuwing en uitreiking van nuwe vuurwapenlisensies, tot so ’n mate uitgekring dat dit bykans onmoontlik gaan wees om die situasie sonder die ingryping van die privaatsektor reg te stel.

Die polisie het onlangs in die parlement bekend gemaak dat daar meer as 340 000 aansoeke om vuurwapenlisensies agterstallig is. Dit sluit 188 296 agterstallige bevoegdheidsertifikate, 138 980 lisensies en 14 930 hernuwings van besigheidslisensies in. Van hierdie lisensies is reeds twee jaar agterstallig.

Hierdie verval het tot gevolg dat al hoe meer eens wetgehoorsame burgers nou eenvoudig versuim of moed opgee om hul lisensiesskyfies te hernu of vir rybewyse aansoek te doen. Hulle is al hoe meer geneë om maar kanse te vat en boetes te betaal.

As president Cyril Ramaphosa homself ’n guns wil bewys en werklik met korrupsie en swak diens in die staatsdiens wil wegdoen, sal hy eerste moet kyk na departemente soos binnelandse sake, vervoer en die polisie. Hy sal heelwat meer steun van landsburgers kry as hulle nie meer hul dae moet om sukkel om ’n geboorte-, huwelik- of doodsertifikaat, identiteitsdokument, paspoort, rybewys, motorlisensieskyfie of vuurwapenlisensie te kry nie.

Vir ’n begin moet hierdie dienste dalk aan privaat instansies uitgekontrakteur word wat oor die nodige kundigheid, tegnologie en werknemers beskik wat ’n sukses van dienslewering wil en kan maak. Iewers moet iets dringend gedoen word voordat die land vol “onwettige” motorbestuurders en vuurwapeneienaars is.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN