Header Artwork
Inperking van vuurwapenlisensies – soos ’n lam ter (ver)slagting

Deur Marnus Kamfer

“Lande wat nie toelaat dat hul burgers wettig in besit kan wees van vuurwapens nie, se geweldsmisdaad is minder. Meer mense word beseer en doodgemaak deur wettige vuurwapeneienaars, met die vuurwapens in hul wettige besit, as deur vuurwapens wat in onwettige besit is. In die meeste gevalle waar vroue beseer word, is dit as gevolg van die houers van vuurwapens in wettige besit. Indien vuurwapens verminder word, sal geweldsmisdaad teen burgers verminder.”

Die bogenoemde is bewerings wat Bheki Cele, die Minister van Polisie, voorlê as redes waarom die bestaande vuurwapenwetgewing nóg strenger daar moet uitsien. Waarop die minister se afleidings en uitlatings in die verband geskoei is, sal net ’n kind kan raai. Sy bronne word om een of ander rede nie gedurende sy argumente geopenbaar nie.

Ironies genoeg is die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in besit van ’n verdoemende verslag wat die teendeel bewys van die opinies wat die minister huldig, en daar is met ’n groot geswoeg uiteindelik toegang tot dié verslag bekom.

Die Analysis of the Effect of the Firearms Control Act on Crime 2000-2014 of eerder die Wits-verslag soos dit bekend staan, is in 2015 in opdrag van die Burgerlike Sekretariaat vir die SAPD onderneem. Die verslag is met behulp van die SAPD en ander rolspelers afgehandel, waarna dit deur Wits Universiteit saamgestel is.

In teenstelling met wat die minister graag aanvoer, het die verslag onder meer die volgende bevind (my beklemtoning):

  • ’n Vlak van sterk en volgehoue polisiëring, eerder as inperkende vuurwapenwetgewing, soos die Wet op Beheer van Vuurwapens (WBV), is nodig om vuurwapenverwante misdade te verlaag.
  • Sterk polisiëring word beskryf as ’n volhoubare, hulpbron-intensiewe benadering met hoë vlakke van voldoening aan protokol en ondersteuning van die strafprosesregstelsel in geheel.
  • The WBV is slegs relevant by minder as 5% van alle misdade wat aan die SAPD gerapporteer word.
  • In moorde word vuurwapens slegs in ’n derde van die gevalle gebruikgeweldsmisdaad moet dus nie vereenselwig word met die besit van vuurwapens nie.
  • Vuurwapen-opsionele misdade (misdade waar daar ’n keuse uitgeoefen kan word rondom die gebruik van ’n vuurwapen of byvoorbeeld ’n skerp voorwerp) is geneig om sensitief te wees, in ’n postiewe sin, vir sterk polisiëring en die WBV. Ander voorwerpe en tot ’n mindere mate vuurwapens sal vir die bogenoemde doel aangewend word.
  • Vuurwapen-afhanklike misdade (misdade waar ’n vuurwapen nodig is om die misdryf te pleeg bv. transitorooftogte, die kaap van voertuie ens.) aan die ander kant, blyk immuun te wees teen die WBV en sterk vuurwapenpolisiëring.
  • Die ouderdom en geslag van eienaars van vuurwapens in wettige besit verskil wesenlik van dié van persone wat aangekla word van misdade.

Indien die verslag vergelyk word met die Minister van Polisie se uitlatings, kry ’n mens die gevoel dat die minister vir lief neem met die feit dat ons hoegenaamd nie voldoen aan die verslag se definisie van “sterk polisiëring” nie. Dit is ou nuus dat die SAPD in verval is en voorbeelde daarvan is legio. Die polisiekommissaris se erkenning dat die SAPD nie oor die vermoë beskik om die burgers van Suid-Afrika en hul eiendom te beskerm nie. Die besnoeiing van die SAPD se begroting met etlike miljarde rande. Die tekort aan mannekrag. Die tekort aan kundigheid. Die agterstand met ondersoeke. Interne bewysstuk- en vuurwapenstelsels wat nie funksioneer nie. Die wanaanwending en vermorsing van hulpbronne. Die misbruik van bates en die gebrek aan onderhoud daarvan. Vuurwapens en ammunisie raak gereeld weg en die SAPD se administrasie is in chaos gedompel. Spesiale behandeling vir sekere politici blyk aan die orde van die dag te wees en senior bestuur in die SAPD sorg net vir hulle en hul kaders se belange.

Kan dit dan wees dat die minister nie weet waar om te begin om aan die verslag se voorstelle te voldoen nie? Dat hy nie oor antwoorde en oplossings beskik om die huidige toedrag van sake aan te spreek nie? Dat sy ego nie toelaat dat hy instem dat hy totale beheer oor die SAPD en misdaad verloor het nie?

Suid-Afrika se misdaadruit is aan skerwe en Cele weier om te erken dat hy die bal geslaan het en die gevolge moet dra. Dit is baie makliker om die vinger te wys na die onskuldige, wettige vuurwapeneienaar in ’n poging om die skuld te verplaas.

Die minister se argumente om die bestaande vuurwapenwetgewing – en daarmee saam die vermoë om vuurwapens wettig te besit – verder in te perk, is finaal van alle waarheid ontbloot deur onder meer ’n verslag uit sy eie geledere. Suid-Afrika se burgers het reeds begin om verantwoordelikheid vir hulself, hul families en gemeenskappe se veiligheid te neem, as gevolg van die staat se onbeholpenheid. In plaas daarvan dat die staat sy burgers help om veiliger te leef, wil hy dit kompliseer.

Die tydperk waarin mense kommentaar kan lewer teen die beoogde, drakoniese konsepwetgewing is verleng en eindig op 2 Augustus 2021. AfriForum het jou ondersteuning nodig. Help ons om toe te sien dat Bheki Cele met sy hoed in sy hand die aftog blaas.

Besoek www.myvuurwapen.co.za.

Marnus Kamfer is die regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN