Header Artwork
Bring jou klein “prins” of “prinsessie” vir kinderboekvoorlesing by die AfriForum Teater

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Kom luister na die mooiste storieboekvoorlesing van Kraal Uitgewers se nuutste kinderboek, Prinsessie en Boekeman, eerskomende Saterdag 11 September om 10:00 by die AfriForum Teater.

Dié pragtige geïllustreerde Afrikaanse prenteboek is die ideale leesstof vir vroeë lesers en vertel die verhaal van Prinsessie, ’n jong en gretige lesertjie, wat haarself in die allermooiste stories en karakters van al haar geliefde boeke verloor.

Op die oog af het sy dalk alles wat ’n prinses voor kan vra, maar tog ervaar sy soos talle ander kinders moeilike seisoene, waartydens sy ’n boekefort bou om haarself teen die wêreld te beskerm. Eers lees klein Prinsessie oor Wolraad Woltemade, Racheltjie de Beer en rare karakters uit feëverhale. Later droom sy van prinse op perde uit ver lande. Uiteindelik gaan sy self op reis en vind die een ding waarvan sy nooit kon droom nie – ’n boekeman!

Die voorblad van Prinsessie en Boekeman.

Prinsessie en Boekeman, geskryf deur Ilze Nieuwoudt met illustrasies deur Thomas Snyman, is ’n klassieke prenteboek, maar dit val ook in die kategorie van rymboeke, soortgelyk aan die styl van die immergewilde Dr. Seuss-boeke.

Met Prinsessie en Boekeman het Nieuwoudt van haar eie letterkundige liefdes ingewerk, soos verwysings na Ingrid Jonker se gedig “Kabouterliefde” en Antoine de Saint-Exupéry se Little Prince. “Ons kan nie verwag om mense eers as volwassenes aan Afrikaanse letterkunde bloot te stel nie. Die liefde daarvoor moet van kleins af gekweek word, met karakters waarmee die kinders kan identifiseer. Daarom was dit vir my belangrik om ook verskeie Suid-Afrikaanse elemente in die storie in te sluit,” sê sy.

Snyman se oorspronklike en energieke illustrasies laat Nieuwoudt se karakters ook werklik lewe kry en sorg dat nuwe lesertjies, wat nog nie so vertroud met woordeskat is nie, steeds saam met ma en pa die verhaal maklik kan volg.

Trek jou kleinding soos hul gunsteling prins of prinsessie aan en kom luister lekker saam na die storie. Die prins of prinsessie met die mooiste pakkie sal ook wegstap met ’n gratis kopie van die boek. Kaartjies vir die geleentheid kos R50 en sluit ’n heerlike kolwyntjie in.

Koop jou kaartjies hier. Prinsessie en Boekeman is ook aanlyn te koop by Kraal Uitgewers teen R140. Vir meer inligting besoek www.kraaluitgewers.co.za

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN