Header Artwork
AfriForum verwelkom rehabilitasie van Vryburg-vullisterrein

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die Naledi Plaaslike Munisipaliteit se besluit om die Vryburg-vullisterrein ten volle te rehabiliteer en het dié vullisterrein op 9 September 2021 besoek.

Die munisipaliteit se aankondiging volg ná volgehoue druk deur AfriForum die afgelope paar maande. AfriForum het die munisipaliteit gereeld gekontak, skrywes gestuur en het ook ’n vergadering belê oor die toestand van die vullisterrein. Die terrein was ontoeganklik en dit het veroorsaak dat inwoners gedwing was om alternatiewe plekke te vind om vullis te stort.

Die munisipaliteit het op 10 Augustus 2021 aangekondig dat die terrein gerehabiliteer gaan word. Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, het die munisipaliteit telefonies gekontak en bedank. Die organisasie het die proses gemoniteer en kan ook ná afloop van die besoek bevestig dat die munisipaliteit volstoom voortgaan met die projek en by hulle woord hou.

“Hierdie is ’n groot verligting vir die inwoners van Vryburg. Ons was oorval met oproepe, e-posse en boodskappe oor die toestand van die terrein. Ná volgehoue druk kan ons vandag sê dat dit wel vrugte afgewerp het,” sê Nieuwoudt.

“Ons is baie bly om te sien dat die vullisterrein nou ten volle gerehabiliteer word. Hierdie was ’n kopseer vir die gemeenskap. Ons hoop nou dat die munisipaliteit die projek sal voltooi en die instandhouding daarna volhoubaar sal bestuur,” sê DeClerq Matthee, voorsitter van AfriForum se Vryburg-tak.

AfriForum moedig inwoners aan om die vullisterrein te gebruik vir vullisverwydering en om vullis nie onwettig in die dorp te stort nie. AfriForum sal voortgaan om die proses te moniteer.

“Hierdie is ’n groot sukses. Ons hoop dat ander munisipaliteite hierdie voorbeeld sal volg en vullisterreine in stand sal hou en bestuur. AfriForum is bereid om die spesialiste wat die organisasie tot sy beskikking het aan te wend om advies te gee,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN