Header Artwork
AfriForum versoek antwoorde van Arthur Fraser oor Zuma se mediese parool

AfriForum het vandag dringend antwoorde versoek oor die vrylating van voormalige president Jacob Zuma op mediese parool. ’n Dringende prokureursbrief is vandag aan Arthur Fraser, die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste beteken waarin hy gevra word om verskeie vrae dringend te beantwoord. In die lig van die dringendheid van die aangeleentheid en die potensiële skending van geregtigheid word Fraser ingevolge die prokureursbrief versoek om teen 10 September daarop te antwoord.

In die brief word gevra dat Fraser inligting aan AfriForum voorsien wat sekerheid sal bied oor of die vrylating van Jacob Zuma aan die tersaaklike wetgewing voldoen. Die volgende inligting word spesifiek vereis:

  • Of Zuma aan ’n terminale siekte ly wat sy mediese parool regverdig.
  • As Zuma nié met ’n terminale siekte gediagnoseer is nie moet besonderhede oor die aard van sy besering, siekte of kwaal wat mediese parool regverdig bekendgemaak word.
  • Gegewe Zuma se goed gepubliseerde weiering om deur dokters ondersoek te word wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag aangestel is, ongeag duidelike voorskrifte deur die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof, word volledige terugvoer versoek oor Fraser se gevolgtrekking dat daar nie ’n risiko is dat Zuma weer sal oortree nie.
  • ’n Afskrif van die aansoek om mediese parool, in die voorgeskrewe formaat, wat deur Fraser oorweeg is.
  • ’n Afskrif van die mediese verslag wat aanbeveel dat Zuma op mediese parool geplaas moet word.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het gesê dat dit skreiend is dat ’n hoëprofielsaak soos dié in soveel geheimsinnigheid gedompel is. “Mens sou dink dat die Departement van Korrektiewe Dienste seker sou maak dat daar geen onduidelikheid by die publiek sou wees oor waarom hierdie besluit geneem is nie. Tog blyk dit met die eerste oogopslag dat hierdie besluit geneem is sonder dat daar aan die vereistes van die wet voldoen is.”

Roets het gesê dat Fraser se antwoord op AfriForum se prokureursbrief sal bepaal of verdere regsaksie nodig is, maar dat AfriForum se regspan gereed is om die saak verder te neem indien nodig.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN