Header Artwork
AfriForum tree in ná ASA ouderdomsgroepe by landloopkampioenskap wou uitsluit

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag verneem dat Atletiek Suid-Afrika (ASA) wel atlete van agt jaar en ouer gaan toelaat om aan die jaarlikse ASA-landloopkampioenskap deel te neem. Dit volg nadat die organisasie op 3 September 2021 ’n dringende skrywe aan ASA gerig het ná ASA vroeër dié dag ’n kennisgewing uitgestuur het dat slegs individue tussen die ouderdom van 17 en 49 aan vanjaar se landloopkampioenskap mag deelneem as gevolg van mediese raad wat hulle in hierdie verband ontvang het. ASA het ná hierdie skrywe ’n aanpassing gemaak en via ’n openbare skrywe aangedui dat atlete tussen 14 en 49 jaar aan die kampioenskappe mag deelneem. AfriForum het ’n opvolgskrywe aan ASA gestuur om te versoek dat alle ouderdomsgroepe van agt tot 49 jaar toegelaat moet word om deel te neem, aangesien daar geen rasionele rede is waarom hierdie ouderdomsgroepe uitgesluit moet word nie.

Volgens Ronald Peters, bestuurder van sport by AfriForum, sou hierdie besluit nie net ’n geweldige groot finansiële impak op ouers en deelnemers hê nie. Meer belangrik, sou dit individue en spesifiek kinders van die geleentheid ontneem het om hul harde werk wat deur die jaar ingesit is op die proef te stel en erkenning te kry vir hul deursettingsvermoë in hierdie moeilike tyd. “Dit is alombekend dat sport ’n geweldige groot impak op die algehele welstand van individue en veral kinders het. Ons kan nie toelaat dat irrasionele besluite wat deur mense in gesagsposisies geneem word, geleenthede soos hierdie negatief beïnvloed nie,” sê Peters.

Peters noem verder dat hulle kennis geneem het van die feit dat ASA nie die regte prosesse gevolg het om hierdie besluit te kon neem, soos vervat in hul grondwet nie. “Die meerderheid van die raad was nie genader vir insette nie en dit was die eerste stap wat gevolg moes word om ’n besluit wat soveel gewig dra, te kon neem.”

Daniël Eloff, direkteur by die prokureursfirma Hurter en Spies, noem dat die aanvanklike besluit deur ASA ooglopend irrasioneel was. “Die risiko van verspreiding van COVID-19 is besonders laag met landloop en is selfs laer in die geval van gesonde kinders. Dit is veral belangrik dat alle irrasionele besluite ten sterkste teengestaan word. Suid-Afrika verwag rasionele besluitneming van ons sportliggame en daarom is dit bemoedigend dat ASA na aanleiding van ons skrywe namens AfriForum positief gereageer het.”

AfriForum beskou hierdie dringende omswaai in die besluit van ASA as ’n sukses en vertrou dat hul ondersteuning met hierdie saak vir talle individue nuwe hoop sal gee.

AfriForum behaal sukses na ’n dringende skrywe aan ASA. Word deel van ’n sportgemeenskap wat saam bou. Klik hier.

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN