Header Artwork
Belastingverslag wys hoe skokkend baie betalers sal moet opdok

Deur Marthinus Koekemoer

Solidariteit het vandag hul belastingverslag en -protes op ’n Facebook-uitsending bekendgemaak waarin hulle tot die gevolgtrekking kom dat die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV) en die nasionale fonds vir maatskaplike sekerheid (NFMS) verregaande is.

“Solidariteit se hoofraad het die kwessie na aanleiding van die verslag bespreek en gesê ‘genoeg is genoeg’,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Volgens Hermann het die regering nie eens berekenings gedoen oor die werklike impak van die voorstelle nie. “Solidariteit is die enigste organisasie wat nog ’n behoorlike impakstudie gedoen het. Daar is bloot nie genoeg belastinggeld om daarvoor te betaal nie en die regering leef in Lalaland as hulle dink dit gaan werk.”

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), wil die regering so vroeg soos einde vanjaar reeds die NGV begin implementeer en dat daar ’n moontlikheid is dat die NFMS, wat tydelik teruggetrek is, gelyktydig ingestel kan word.

“Met die terugtrekking van die NFMS groenskrif sê die regering in werklikheid hullle is uitgevang en hulle gaan ’n poging aanwend om sekere inligting beter vir ons weg te steek. Toelaes moet eintlik net vir uitsonderlike gevalle wees en wat voorgestel word, is nie volhoubaar nie,” sê Mulder.

In Suid-Afrika betaal omtrent 3,4 miljoen mense meer as 91% van alle belasting. Suid-Afrikaners betaal die tweede hoogste belasting in die wêreld as persentasie van die BBP met net Swede wat ’n hoër koers het. Hoewel die regering dit laat klink of hierdie nuwe vorme van belasting net op die superrykes gemik is, is die realiteit dat hierdie groep maniere gevind het om minder belasting te betaal.

Suid-Afrika het die tweede hoogste belasting as persentasie van BBP in die wêreld.

In 2006 het hierdie groep meer as 61% van hul inkomste aan verskillende vorme van belasting betaal. Teen 2015 was hierdie syfer minder as 54%. In alle inkomstegroepe het belastingbydraes in dieselfde tydperk meer geword.

Dis hoeveel Suid-Afrikaners in werklike terme aan belasting uitgee.

As die NGV en NFMS in die huidige voorgestelde vorm uitgerol word, sal belasting vir alle inkomstegroepe aansienlik verhoog. ‘n Individu wat meer as R7 275 en minder as R18 018 per maand verdien sal sowat 338,1%  meer belasting betaal. Iemand wat meer as R138 051 per maand verdien, sal omtrent 44,3% meer belasting betaal.

Hermann sê die plan is onvolhoubaar en gedoem om te misluk. “Die geskiedenis toon dat soortgelyke planne elders misluk het en boonop tot die verlies van miljoene lewens gelei het. Dit kom daarop neer dat die wat alles het alles moet gee, terwyl die wat niks het nie alles kry. Hierdie planne wys die regering is gek en die tyd het gekom om ‘nee’ te sê.”

Hermann en ’n span van Solidariteit vertrek binnekort op ’n internasionale reis waar hulle onder meer lidlande van die Europese-Unie sal besoek om steun vir die beweging se belastingprotes te werf.

Solidariteit stel ’n vyfpuntplan vir hul belastingprotes voor. Dit bestaan uit litigasie, bewusmaking, internasionale skakeling, vervolging van die regering se belastingplunderaars en ’n taakspan wat op die been gebring gaan word om mense te help om deur kreatiewe metodes minder belasting te betaal.

Lees die volledige verslag hier.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN