Header Artwork
Vrystaat se vullisterreine in haglike toestand

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Geen van die 24 vullisterreine wat in die Vrystaat geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, is die meeste vullisterreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand. “Baie van die masjinerie is stukkend en die vullisterreine hou beduidende gesondheids- en veiligheidsrisiko’s in vir mense wat daar werk en vir die gemeenskap wat daarvan gebruik moet maak. Dit is duidelik dat die munisipaliteit dié afdeling wanbestuur.”

Groenewald sê die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. Die opsigters van die terreine is ook meestal afwesig.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te spreek en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN