Header Artwork
Kyk: Richardsbaai-tak gryp in om skole gereeld te ontsmet

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

‘Die impak van COVID-19 op ouers se salarisse asook die onbeholpenheid aan die kant van die staat het daartoe gelei dat die land se voorskoolse sektor verlede jaar byna heeltemal tot stilstand geruk is.

Talle kleuterskole, dagsorgsentrums en speelgroepe is gedwing om drasties af te skaal of hul deure te sluit weens die impak van die pandemie.

Luidens ’n 2020-opname van die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling het net tussen 15% en 20% van kinders wat in Maart verlede jaar by ’n kleuterskool of dagsorgsentrum ingeskryf het ná die sluitings teruggekeer. Teen Augustus verlede jaar het ’n Nids-Cram-opname oor COVID-19 bevind die bywoning van voorskoolse sentrums en kleuterskole was die laagste die afgelope 18 jaar.

Skole soos die Little Musketeers Kleuterskool in Richardsbaai het geen staatshulp ontvang nie en moes self opdok om beskermende toerusting aan te koop en geboue te ontsmet. Volgens Mariska van Eck, hoof van dié kleuterskool, het hul groep van sowat 90 kinders tot 15 gedaal toe hul verlede jaar na die vlak vyf inperking hul deure weer kon open. “Ons begin nóú eers om weer ons voete te vind.”

AfriForum se Richardsbaai-tak het verlede jaar skolehulppakkette aan verskeie skole in hul omgewing, insluitend Little Musketeers, gegee, maar daar het ’n groter behoefte rondom die ontsmetting van skole ontstaan. Die tak en plaaslike gemeenskap het toe hande gevat en sedertdien werk tak- en gemeenskapslede in skofte saam om skoolterreine op ’n gereelde basis te ontsmet. “As dit nie vir AfriForum was nie dink ek sou ’n hele paar skole in ons gebied nog meer gesukkel het. Ons is so dankbaar vir die gemeenskap en organisasie se hulp,” sê Van Eck.

Ian Rapson, takvoorsitter op Richardsbaai, sê dat die tak danksy die organisasie se hulpbronne en strukture ’n verskil in hul gemeenskap kon maak. “AfriForum fokus op al die aspekte wat ’n goeie gemeenskap bou. As ’n mens ’n verskil in jou gemeenskap wil maak, moet jy by AfriForum inskakel. Daar is geen ander organisasie in die land wat so groot verskil maak nie,” sê hy.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN