Header Artwork
AfriForum bewerkstellig samewerking met SAPD, Departement van Justisie en Swartruggens-gemeenskap   

Verskeie AfriForum-takke in Noordwes het op 13 Augustus ’n konferensie in samewerking met die Swartruggens-gemeenskap gehou om ’n konstruktiewe samewerkingsooreenkoms met sowel die plaaslike SAPD as die Departement van Justisie te vestig.

AfriForum is genoop om hierdie konferensie te reël ná inwoners van Vlakfontein, Silwerkrans, Lindleyspoort en Swartruggens die organisasie genader het om alternatiewe oplossings te bewerkstellig aangesien hierdie gebiede erg onder misdaad gebuk gaan.

Tien senior offisiere onder leiding van genl.maj. Patrick Asaneng, adjunk- provinsiale polisiekommissaris vir Noordwes, asook Lisa Becker van die Departement van Justisie, het die geleentheid bygewoon. Gemeenskapslede en stamhoofde vanuit die onmiddellike omgewing was ook by die konferensie teenwoordig en het hulle insette gelewer deur voorbeelde uit te lig waar misdadigers onvoldoende of glad nie vervolg is nie.

Jan Wessels, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid, het ’n voorlegging gedoen om AfriForum se rol in die gemeenskap uiteen te sit. Die probleme wat deur die deelnemers geïdentifiseer is, is deur Asaneng en Becker genotuleer en aksie om die misdaadsituasie en toekomstige dienslewering aan te pak is aan die gehoor voorgelê. Daar is ooreengekom dat opvolgvergaderings gehou sal word en dat daar deurlopende kommunikasie tussen AfriForum, gemeenskapsleiers, die SAPD en die Departement van Justisie sal wees.

“Forums soos hierdie skep die geleentheid en kultuur van openhartigheid wat kan lei tot die daadwerklike aanpak van onveilige situasies wat deur kwesbare gemeenskappe ervaar word. Die goeie gees van samewerking tussen die statutêre owerhede en gemeenskapsrolspelers manifesteer op hierdie wyse en ’n gesamentlike strewe tot die skep van ’n veilige omgewing word hierdeur bevoordeel. AfriForum bly steeds verbind tot die soeke na metodes om in samewerking met die SAPD ’n veiligheidsnetwerk te vestig wat destabiliseerders vryheid van beweging en optrede sal ontsê,” sê Wessels.

“Die openhartigheid en toegewydheid van die betrokke rolspelers het dit duidelik gemaak dat gemeenskappe ’n baie groot rol speel in die bekamping en voorkoming van misdaad. Die feit dat die SAPD en die Departement van Justisie die aangeleentheid bygewoon en konstruktiewe bydraes gelewer het, dui daarop dat die rol en bydrae van gemeenskapslede van kardinale belang is om die twee entiteite suksesvol te maak. Dit was ook duidelik deur hul bydraes dat die gemeenskap se belange ook vir hulle saak maak. Ek is opgewonde oor die openhartigheid en die moontlikheid van ’n goeie verhouding tussen die rolspelers om uiteindelik ’n gemeenskap te hê waar almal vry en vooruitstrewend kan leef,” sê Gerhard Faber, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Noordwes.

Raak vandag nog by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN