Header Artwork
AfriForum verwerp roekelose planne vir staatsbeheerde maatskaplike sekerheidsfonds

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan is gereed om die nuwe staatsbeheerde maatskaplike sekerheidsfonds te beveg om te verhoed dat dié roekelose plan die groenlig kry.

Volgens die groenskrif wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling opgestel is, sal alle burgers verplig word om 12% van hul inkomste in dié fonds te deponeer, tot en met ’n maksimum van R2 760 per maand.

Die fonds sal dan glo gebruik word om maatskaplike toelae en pensioentoelae aan burgers te betaal. Mense wat ’n hoë inkomste verdien sal wel steeds bydraes aan hul eie privaat pensioenfondse moet maak.

Volgens AfriForum lyk dit of die regering burgers probeer aanmoedig om ’n belastingverset van stapel te stuur.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die voorstel is vergesog  en tekenend van die ANC wat eenvoudig nie volgehoue ekonomiese groei kan bewerkstellig nie en bankrot is aan idees om werk te skep. “Die reeds oorbelaste belastingbetaler sal geen ander keuse hê as om te weier om 12% van hulle inkomste, bykomend tot ’n geweldige hoë belastinglas, te betaal nie. Die ANC speel met vuur en is daarop uit om gemeenskappe en belastingbetalers se geduld te beproef.”

Kruger sê verder dat die ANC se welsynstaat nie volhoubaar is nie. “Hierdie verdere verpligting sal die gans wat die goue eiers lê se nek eenvoudig omdraai. Gemeenskappe is op die randjie van ’n belastingverset, maar die ANC druk sy kop in die sand en gaan voort met sy uitgediende ideologieë en beleide.”

“Sowat 2,7 miljoen belastingbetalers dra reeds die res van die land se inwoners en dit is verregaande om die reeds oorbelaste belastingbetaler nou nog verder te belas. Daar is ook geen twyfel wat met die geld sal gebeur nie. As ’n mens maar net kyk na die ANC-regering se prestasie op hierdie gebied, gaan dit op oorsese vakansies, Duitse motors en Franse ontwerpersdrag spandeer word,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van veldtogte.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN