Header Artwork
AfriForum-oudit wys vullisterreine nie op standaard nie

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit is afgehandel en net ’n skamele 17% van terreine wat besoek is, voldoen aan die minimum vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008).

Anders gestel het 27 uit die 153 terreine wat AfriForum se spanne besoek het ’n slaagpunt behaal.

’n Lys van 33 vrae is gebruik om punte toe te ken. Die vrae begin by toegang en beheer en sluit alles van hulpbronne tot dreinering in voor daar met rekordhouding afgesluit is. ’n Punt per vraag word toegeken waar ’n terrein ten volle voldoen en ’n halwe punt vir gedeeltelik voldoen. Om te slaag moet ’n vullisterrein ten minste 80% kry en streef daarna om die ander 20% ook te verbeter. AfriForum het in 2014 met hierdie jaarlikse oudit begin aangesien munisipalitiete dit nie meer self doen nie.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, sê daar is verskeie redes vir vullisterreine se swak punte. “Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat lei tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine,” sê hy.

“Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind.

“Die grootste uitdaging is dat daar amptenare in munisipaliteite is wat weet hulle swak bestuur hou geen gevolge vir hulle in nie. Dit is kommerwekkend om te weet die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika voldoen nie eens aan die minimum vereistes nie, maar terselfdertyd is dit verstaanbaar aangesien geen munisipaliteite tot verantwoording geroep word oor die wanbestuur nie.”

Gauteng se vullisterreine het oor die algemeen die beste gevaar met nege uit die 17 wat besoek is wat aan die minimum vereistes voldoen. In die Wes-Kaap, wat gewoonlik as die provinsie met die beste administrasie beskou word, het net 12 uit die 27 terreine aan die vereistes voldoen. In Noordwes het net twee uit 21 terreine ’n slaagpunt behaal. Die vrotste provinsies is die Vrystaat en die Oos-Kaap waar daar nie eens een vullisterrein was wat aan die minimum vereistes voldoen het nie. Die res van die provinsies het een terrein elk gehad wat geslaag het.

 

’n Verdere bekommernis is dat daar selfs ’n paar vullisterreine is wat sedert die vorige verslag uitgereik is, gesluit is. Daar is ook in sommige gevalle vullisterreine wat steeds gebruik word nadat hul lisensies reeds verval het. Daar is dorpe wat glad nie ’n vullisterrein het nie wat waarskynlik tot onwettige storting sal lei.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, is die meeste vullisterreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand. “Baie van die masjinerie is stukkend en die vullisterreine hou beduidende gesondheids- en veiligheidsrisiko’s in vir mense wat daar werk en vir die gemeenskap wat daarvan gebruik moet maak. Dit is duidelik dat die munisipaliteit dié afdeling wanbestuur.”

Die enigste lig aan die einde van die tonnel is dat daar wel in enkele gevalle vullisterreine is wat vanjaar ’n beter punt as in vorige jare se oudits aangeteken het.

AfriForum beoog om die verslag, wat ná afloop van die oudit opgestel is, aan die Groen Skerpioene vir verdere ondersoek te stuur. Dié verslag gaan ook met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, bespreek word.

“Daar is reeds sedert 2019 se vullisterreinoudit met Creecy vergader en daar was deurlopend gekommunikeer met die minister en haar span. Daar is nou ses terreine geïdentifiseer wat ons poog om te herstel. In Mei 2021 is daar besluit om daadwerklik saam te werk en besoeke af te lê aan die ses terreine en te werk aan oplossings om die terreine se uitdagings aan te spreek. Een van die opsies is om ’n openbare gemeenskapvennootskap (OGV) te vestig,” sê De Klerk.

“AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”

Help om jóú omgewing skoon en netjies te hou: SMS jou dorp se naam na 45354 (R1) en sluit by dié inisiatief aan.

Lees die volledige verslag hier.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN