Header Artwork
Uitstalling by Voortrekkermonument ter viering van Republiekdag

Deur Marthinus Koekemoer

’n Kunsuitstalling getiteld “Presidente en Premiers” is Maandag (31 Mei) in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument (VTM) geopen om die 60-jarige herdenking van Republiekwording in 1961 te vier.

Dié uitstalling bestaan uit verskeie borsbeelde en skilderye wat voor 1994 in die Uniegebou was.

“Hierdie is die eerste van baie uitstallings,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM. “Die geskiedenis help ons om beter te verstaan waar ons vandaan kom.”

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het die uitstalling met ’n praatjie geopen waar hy verwys het na ou ooms en hul hoede. Dit was die gewoonte van ooms om as hulle in die publiek verskyn het, deftige pakke aan te trek en ’n hoed te dra en dan soos hulle by bekendes verby geloop het die hoed effens te lig.

“Ek sien dit nog in my geestesoog in die strate van ou Johannesburg en Pretoria. Selfs wanneer hulle kinders gegroet het, het hulle afgebuig, met die een hand gegroet terwyl die ander hand terselfdetyd die hoed gelig het.”

Volgens Goosen het hierdie ooms gesag gehad, maar dit is begrens met respek vir ander. Hulle het nie hul gesag gebruik om ander te boelie nie. En soos die ou ooms was die leierskap van ons leiers ook deur samespel tussen gesag en respek gekenmerk.

“Vandag woed daar ’n hewige ideologiese stryd teen die agtergrond van my opmerkings oor die ou ooms en ons leiers. Roger Scruton het geskryf van die spanningslyn tussen die Weste en die res van die wêreld,” sê Goosen.

Scruton sit ’n werklikheid uiteen van die sogenaamde bose, kolonialistiese en rassistiese Weste teenoor die goeie, onskuldige en vreedsame Res. Ingevolge hierdie goed versus boos-skema word ons leiers sonder meer ingedeel by die magte van die bose. Diegene wat hulle teengestaan het (soos enkele Afrikaners wat kommuniste was) was goed. Dit ondanks die enorme geweld, verdrukking en smart waartoe die kommunisme aanleiding gegee het.

Goosen meen Afrikaners het in die 20ste eeu voor talle ernstige ekonomiese, sosiale en politieke uitdagings te staan gekom wat onder die leierskap van die ou ooms bykans tot onvergelykbare prestasie gelei het. Hy gaan verder om te sê dis onregverdig om ons ooms aan bogenoemde skema te onderwerp.

“Volgens die ideologiese ‘goed versus boos’-vertolking was die gesag en respek wat ons leiers gekenmerk het, inderwaarheid boosaardig. Die gesag waaroor hulle beskik het, was ’n despotiese, tirannieke en geweldadige gesag en tegelyk het hulle geen respek vir andere gehad nie. Maar is dit so?

“As mense het hulle in ooreenstemming met die insigte van hul tyd gehandel en ook in die proses ­­– agterna beoordeel – foute gemaak. Daarvoor kan en moet hulle tereg gekritiseer word. Maar goed, was hulle boos?”

Goosen gebruik dr. Hendrik Verwoerd, wat in die oë van ideoloë, as ’n samevatting van alles wat boos was, gesien is. Hy sê op die vraag of Verwoerd se gesag ’n tirannieke, despotiese en geweldadige gesag was, is die antwoord beslis “nee”.

“(Mnr.) Fanie Botha, ’n jonger kollega van Verwoerd, wie self later ’n kabinetslid was, het met lof van dié eertydse leier gepraat. Hy het byvoorbeeld vertel van die verering wat Verwoerd onder die swart gemeenskappe van die Noord-Transvaal geniet het. Hy het hulle in reusagtige groepe in eenvoudige taal en in hul eie idioom aangespreek. Hulle het van heinde en verre opgeruk om na hom te luister. Ons kan dus uit die ervaring wat die verlede ons vertel diep dankbaar wees oor ons leiers,” sê Goosen.

Die uitstalling kan tot einde September by die Erfenissentrum besigtig word.

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN