Header Artwork
Om staande te bly te midde van korrupsie wat gedy

Deur Alet Rademeyer

Ons is nog maar in die begin van die jaar en dit is klaar moeilik om elke dag se dosis slegte nuus te verteer. Daarbenewens woed die pandemie ook nog voort en bly mense maar skrikkerig om die gevreesde virus op te doen.

Oudpres. Jacob Zuma sê vandeesweek hy is nie bang om tronk toe te gaan nie en dat hy dít selfs bo ’n verskyning voor die Zondo-kommissie oor staatskaping verkies. Dít ondanks die feit dat die Konstitusionele Hof bevind het dat Zuma nie die kommissie kan ontduik nie en dat hy vrae oor sy beweerde aandeel in staatskaping móét beantwoord.

Dit maak gewone landsburgers briesend. Hoe is dit moontlik dat dit lyk of die 78-jarige voormalige staatshoof eenvoudig nooit vir korrupsie en vergrype in die nege jaar van sy presidentskap aanspreeklik gehou gaan word nie? Hofsake waarby hy geïmpliseer en in aangekla word, sloer in sommige gevalle al langer as ’n dekade.

Om alles te kroon, is daar in sommige kringe ook bespiegelings dat Zuma moontlik na Rusland kan vlug om vervolging te ontduik.

Asof dit alles nie erg genoeg is nie moes die Zondo-kommissie ook verlede week hoor hoe die Staatsveiligheidsagentskap oor ’n tydperk van ses jaar gemiddeld R14 miljoen per maand onwettig tot Zuma en ander hooggeplaaste amptenare se politieke en persoonlike voordeel bestee het.

Hoe is dit vir Zuma en sy uitgebreide gesin aanvaarbaar dat hulle steeds elke dag op belastingbetalers se hardverdiende geld in weelde in Nkandla en ander luukse paleise kan voortleef asof dit hulle alles eenvoudig toekom? Ja-Nee, ’n mens wil byna vra: “Hoe slaap hy rustig sonder dat sy gewete hom enigsins aankla?”

Die feit dat dit lyk asof Zuma nooit sy dag in die hof gaan kry of verantwoording vir sy vergrype of hebsug gaan doen nie, kan ’n mens ook verder vertroue in die regstelsel laat verloor.

Zuma se laakbare optrede herinner ’n mens ook dikwels én toenemend aan dié van oudpresident Robert Mugabe van Zimbabwe wat sy land en sy mense eenvoudig vernietig het voordat hy op 95-jarige ouderdom gesterf het.

Mugabe het Zimbabwe met sy grondhervormingsbeleide en die verdrywing van wit boere uit die land, in algehele ellende en ekonomiese chaos gedompel. Bitter min het onder sy diktatorskap van die ryk “broodmandjie van Afrika” oorgebly.

Suid-Afrika het onder Zuma se dekadelange plundery ook reeds ’n enorme prys betaal en skade gely wat waarskynlik nooit weer herstel kan word nie. Al sê en doen president Cyril Ramaphosa nou ook wat.

As landsburgers kan ’n mens in sak en as oor die verloop van dié gebeure  verval, of jy kan introspeksie doen en jouself afvra watter klein beskeie deel jy kan bydra om aan ’n beter toekoms te probeer bou. Daar is ’n paar opsies. Eerstens kan ’n mens tydens verkiesings jou stem uitbring vir leiers wat hopelik nie ook so korrup is nie. Tweedens kan en moet ’n  mens die regte ding doen en opstaan teen korrupsie en korrupte mense. En laastens kan ons sekerlik in die waarheid en wete berus dat ongeregtigheid nie vir ewig ongestraf sal bly nie.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN