Header Artwork
Minister Mkhize moet opsy staan; belastingverset dreig

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n klagte by die Openbare Beskermer ingedien en ’n beroep gedoen op dr. Zweli Mkhize, Minister van Gesondheid, om opsy te staan. Dié organisasie wil hê dat Mkhize opsy moet staan totdat die Spesiale Ondersoekeenheid hul ondersoek afgehandel het oor sy kennis van beweerde korrupsie en plundering van openbare fondse deur onderskeidelik sy voormalige persoonlike assistent en mediawoordvoerder.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, moet die ANC die korrupsiepandemie in eie geledere nou daadwerklik begin hokslaan. “Die ANC moet dr. Zweli Mkhize opsy laat staan hangende die uitslag van die ondersoek teen hom. Enigiets minder as dit is verraad teen gemeenskappe wat gebuk gaan onder die impak van die COVID-pandemie,” sê Kruger.

“Belastingbetalers is op breekpunt en word daagliks deur berigte van nuwe plundertogte deur ANC-amptenare gekonfronteer. Die ANC-regering besef duidelik steeds nie watter vlakke van frustrasie daar onder belastingbetalers bestaan nie. AfriForum word daagliks oorval deur raadop gemeenskappe wat daadwerklike belastingverset ondersoek,” verduidelik Kruger.

Volgens Kruger voorspel hierdie ernstige korrupsiebewerings niks goeds vir die nasionale gesondheidsversekering (NGV) wat die ANC teen elke prys wil probeer deurdruk nie. “Die plundering van hulpbronne by die eerste geleentheid wat tydens ’n pandemie opduik, is ’n voorspelling van wat verwag kan word wanneer hulpbronne sentraal bestuur word as NGV verwesenlik sou word.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN