Header Artwork
Koster-inwoners opponeer munisipaliteit se hofaansoek om bestuur van waterwerke terug te neem

Die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) opponeer ’n dringende hofaansoek van die Kegtelengrivier Plaaslike Munisipaliteit om die bestuur van die water- en rioolwerke in Koster en Swartruggens terug te neem. Dié aansoek is verlede week in die Noordwes Hooggeregshof in Mahikeng ingestel en die aanhoor daarvan is gister (21 April 2021) na 11 Mei 2021 uitgestel.

Volgens Carel van Heerden, KBI-verteenwoordiger, is uitstel verleen sodat die aansoek op dieselfde dag aangehoor kan word as die aansoek om minagting wat deur die KBI en AfriForum ingestel word.

“Die munisipaliteit skarrel nou verbete rond om die bestuur van die werke terug te neem. Ons hou voet by stuk dat die werke nie aan die munisipaliteit teruggegee kan word as geen geskikte diensverskaffer aangestel is om die volhoubare funksionering van die water- en rioolwerke te verseker nie,” sê Johan Kruger, direkteur van Pionier Dienstemaatskappy. Die KBI het Pionier aangestel om die dienslewering te bestuur en te behartig.

Volgens Van Heerden was die onlangse teruggee van die werke aan die munisipaliteit se diensverskaffer katastrofies. Die werke het in bykans ’n week egter só agteruitgegaan dat die terugkeer tot die benarde situasie wat tot die hofaansoek gely het onvermydelik sou wees. Van Heerden bevestig dat die inwoners geen ander keuse gehad het as om die werke terug te neem nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel het die KBI met die opstel van die hofstukke gehelp. Die eenheid ondersteun ook die KBI met die regsproses. Adv. Nel sal die minagtingsaansoek op 11 Mei waarneem.

“Munisipale bestuurders en amptenare moet tot verantwoording geroep word vir wanbestuur. Besoedeling soos hierdie het verreikende sosiale en ekonomiese gevolge vir die hele streek, asook ’n uiters nadelige effek op die mense wat in die omgewing woon. Ons kan eenvoudig nie meer toelaat dat ons dorpe weens die munisipaliteit se wanbestuur agteruitgaan nie. Ons het daarom besluit om self binne die raamwerk van die wet in te gryp,” sê Corné Cronjé, bestuurder van AfriForum se gemeenskapstrukture.

Volgens Kruger word daar intussen hard gewerk aan kort-, medium- én langtermynoplossings om te verseker dat die operasionele en finansiële bestuur van die werke professioneel en volhoubaar geskied tot voordeel van die gemeenskap. “Pionier werk saam met die KBI aan oplossings om te verseker dat die Koster- en Swartruggens-gemeenskappe volhoubare en betroubare toegang tot water- en riooldienste het. Die geleentheid om ’n nuwe model vir gemeenskapsbetrokkenheid by dienslewering te vestig, is vir ons ’n gulde geleentheid om ’n bydrae tot die land se toekoms te lewer,” sê Kruger.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN