Header Artwork
In dié dorpe is watergehalte ’n reusekopseer vir inwoners

Deur Alet Rademeyer

 

AfriForum het onlangs die resultate van sy blou- en groendruppelprojek bekendgemaak en tot die slotsom gekom dat die rioolafvalwaterbehandelingswerke in talle dorpe uiters swak is.

Die bloudruppeltoetse fokus op die gehalte van drinkwater en die groendruppel op rioolafvalwater.

Van die 118 aanlegte in dorpe en stede waar rioolafvalwater getoets is, het 90 nie aan die minimum gehaltestandaarde voldoen nie. In 2019 het 65 uit 124 aanlegte nie die toets geslaag nie. Dit dui op ’n verdere agteruitgang in talle dorpe. In sommige dorpe is AfriForum boonop toegang tot die aanlegte geweier en in party gevalle was die hele aanleg onaktief.

 

Die aanlegte wat nie aan die standaarde voldoen nie, is Rooiwal (Pretoria), Bronkhorstspruit, Centurion-Wes, Cullinan, Heidelberg (Gauteng), Kameeldrift, Kempton Park, Daspoort (Pretoria-Wes), Randfontein, Vanderbijlpark, Westonaria, Bitterfontein, Bredasdorp, George, Kaapstad (Scottsdene), Lutzville, Oudtshoorn, Stilbaai, Wellington, Douglas, Hartswater, Jan Kempdorp, Kakamas, Kathu, Keimoes, Kimberley, Kamieskroon, Kuruman, Prieska, Upington, Vaalharts, Williston, Bothaville, Bloemfontein, Bultfontein, Frankfort, Heilbron, Hertzogville, Kroonstad, Parys, Petrus Steyn, Welkom, Winburg, Belfast, Dullstroom,  Evander, Leandra, Machadodorp, Middelburg, Nelspruit, Secunda, Standerton, Witbank, Biesiesvlei, Bloemhof, Brits, Buffelspoort, Christiana, Coligny, Delareyville, Groot Marico, Hartbeespoort, Klerksdorp, Koster, Lichtenburg, Mahikeng, Mooinooi, Potchefstroom, Stella, Stilfontein, Ventersdorp, Vryburg, Zeerust, Ellisras, Groblersdal, Marble Hall, Naboomspruit, Nylstroom, Potgietersrus, Margate, Newcastle, Pongola, Utrecht en Vryheid.

Aanlegte waar AfriForum toegang geweier is, is Roodepoort, Magaliesburg en Orkney.

AfriForum het die gehalte van drinkwater in 220 dorpe getoets. Net vyf dorpe se drinkwater het ten tyde van die toetse nie aan gehaltestandaarde voldoen nie. Dit is Boshof, Brits, Delareyville, Sannieshof en Stella.

Lambert de Klerk, hoof van Omgewingsake by AfriForum, meen die uitslag van die bloudruppeltoetse is ’n aanduiding dat die druk wat AfriForum jaarliks op munisipaliteite plaas, vrugte begin afwerp.

In die afgelope jaar het AfriForum gemeenskappe ook onverwyld gewaarsku om kraanwater te vermy waar daar aanduidings en bewyse was dat die watergehalte onveilig is.

De Klerk sê Suid-Afrika is ’n waterskaarsland en daarom moet oplossings gevind word om die buitengewone uitdagings die hoof te bied. “Die land is toenemend onder druk om in die aanvraag na water te voorsien. Groeiende druk op bestaande drinkwater- en rioolinfrastruktuur dra by tot die land se dreigende waterkrisis.”

AfriForum help gemeenskappe om hulself teen swak dienslewering te beskerm, veral in die voorsiening van water. Die burgerregteorganisasie het reeds verskeie noodwaterpunte opgerig waar skoon drinkwater by privaat bronne beskikbaar gestel word. Munisipale boorgate is ook al help herstel om in krisistye water te voorsien. Die koste wat gemeenskappe aangaan om water weens ontoereikende munisipale waterverskaffingsdienste self te voorsien, is ook al van die betrokke munisipaliteite teruggeëis.

AfriForum het die #SkoonWater-Inisiatief in Februarie 2013 van stapel gestuur. Die jaarlikse verslag help om aan die publiek sowel as munisipaliteite betroubare inligting te gee oor die gehalte van Suid-Afrika se drink- en rioolwater.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN