Header Artwork
AfriForum sê TIMSS 2019-resultate toon noodsaak van moedertaalonderrig

AfriForum het met kommer kennis geneem van die resultate van die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) van 2019 wat gister bekend gemaak is. Daarvolgens is die standaard van leerders in graad 5 en 9 in wiskunde en wetenskap steeds van die heel swakste in die wêreld.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, kan baie redes vir die wanprestasie aangevoer word, maar is een van die vernaamste probleme die gebrek aan moedertaalonderrig in die land. “Veral in vakke soos wetenskap en wiskunde, waar leerders abstrakte begrippe moet bemeester, is dit noodsaaklik dat hulle vir so lank as moontlik in hulle moedertaal studeer om werklik te bemeester wat hulle leer. In ander vakke kan hulle dikwels lank wegkom daarmee om werk bloot te memoriseer, maar in wiskunde en wetenskap word die gebrek aan begrip al vroeg duidelik.”

Bailey noem dat Afrikaanse enkel-, dubbel- en parallelmediumskole van oor die land tans weer by AfriForum om hulp aanklop, aangesien provinsiale onderwysowerhede meedoënloos druk op hulle uitoefen om onderskeidelik ruimte vir Engelse leerders te skep, of meer Engelse leerders in te neem.

Internasionaal is bewys dat wanneer onderrig in twee tale binne een inrigting aangebied word, hetsy met parallel- of dubbelmediumonderrig, die dominante taal uiteindelik die enigste onderrigtaal word. Dit gebeur vinniger in dubbelmediumskole, omdat die aanhoudende herhaling die leerders en onderwysers uitput. In parallelmediumskole neem dit langer, maar die uiteinde is gewoonlik dat teruggeval word na enkeltalige onderrig in die dominante taal, wat in die geval van Suid-Afrika Engels is.

Bailey voeg by dat die stelselmatige uitfasering van Afrikaanse onderrig slegte nuus vir alle Suid-Afrikaners is. “Volgens die 2011-sensus is minder as 10% van die land se inwoners moedertaalsprekers van Engels. Wanneer ’n taal wat reeds sterk in onderrig gevestig is, soos Afrikaans, onder druk van Engels swig, beteken dit dat die kans vir die ander nege amptelike tale om verder te ontwikkel, toenemend afneem. Uitslae soos dié van TIMSS 2019 bewys wat die uitkoms is – jongmense wat al minder indiensneembaar is wanneer hulle hulle skoolloopbane voltooi, wat weer tot ernstige vaardigheidstekorte en ekonomiese inkrimping lei.”

“AfriForum moedig dus alle ouers aan om sterk standpunt ten gunste van moedertaalonderrig in te neem en gaan voort om op te tree om leerders se reg daarop te beskerm,” sluit Bailey af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN