Header Artwork
Drie sloerende sake in Middelburg uiteindelik in hof nadat vervolgingseenheid ingryp

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het uiteindelik besluit om op te tree in drie sake wat in sommige gevalle reeds vir byna drie jaar sloer nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het. Dié eenheid het in al drie sake namens die families van die slagoffers vordering van die SAPD, asook die NVG versoek. In sommige gevalle was daar bewerings dat die dossier verdwyn het en in alle gevalle het sowel die NVG as die SAPD versuim om voldoende terugvoer aan die oorledenes se naasbestaandes te gee.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verwelkom AfriForum die NVG se besluit om in elkeen van die onderstaande gevalle wel op te tree aangesien die slagoffers se naasbestaandes geregtigheid verdien. “Dit is egter betreurenswaardig dat die families só lank moes wag voordat daar enige vordering gemaak is. Die noodsaaklikheid van die druk wat die privaatvervolgingseenheid uitoefen sodat prima facie-sake soos hierdie wel die nodige aandag kry, word weer eens in al drie gevalle beklemtoon.”

Lizel Visagie
Die NVG het verlede jaar aangedui dat hulle wel vervolging teen Khumbulani Malinga gaan herinstel nadat hy na bewering vir Lizel Visagie in Maart 2019 doodgery het. Dít volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan die NVG en die SAPD geskryf het dat hulle namens Visagie se naasbestaandes optree en vordering in die saak versoek het. Malinga moet op 9 Maart 2021 in die Streekhof in Middelburg verskyn. Visagie het tydens die voorval haar toe minderjarige dogter uit die pad van Malinga se motor gestamp terwyl hy besig was om van die verkeerspolisie te vlug. Visagie het onderweg na die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Alet Herbst en Lina Lukele
In die saak waar Alet Herbst en Lina Lukele in Oktober 2018 in ’n ongeluk gesterf het wat na bewering deur ’n dronkbestuurder veroorsaak is, het die NVG ook besluit om vervolging in te stel nadat die privaatvervolgingseenheid navraag gedoen het oor waarom geen vervolging tot dusvêr ingestel is nie. Die beskuldigde word aangekla op twee klagtes van strafbare manslag en moet op 16 April 2021 in die hof verskyn.

Gerhard Coetzer
Gerhard Coetzer is in April 2018 in Middelburg doodgeskiet. Die NVG het versuim om enige stappe te doen totdat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens Coetzer se weduwee vordering versoek het. Die aanklaer het die saak daarna na die Direkteur van Openbare Vervolging in Mpumalanga verwys wat gelas het dat ’n geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van Coetzer gedoen moet word. Die landdros sal tydens die GDO onder meer ’n besluit neem oor of Coetzer se dood veroorsaak is deur ’n misdaad wat deur ’n ander persoon gepleeg is. Daar bestaan getuienis in hierdie saak dat Coetzer nié tydens ’n rooftog nie, maar wel deur ’n persoon bekend aan die oorledene geskiet is.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN