Header Artwork
Digbundel ten bate van vroue skep hoop

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Solidariteit Helpende Hand het vanjaar Vrouemaand op ’n hoogtepunt afgesluit tydens die spoggerige bekendstelling van hul nuwe digbundel getiteld: Steeds Vrou.

Dié bundel bevat 40 gedigte van beide Alta Strauss, skrywer en motiveringspreker, en René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, en is ’n projek wat ten doel het om Helpende Hand se FroueVonds te ondersteun.

Helpende Hand het dié fonds (wat se naam met opset verkeerd gespel word omdat “dinge nie altyd perfek uitwerk nie”) in 2019 spesiaal gestig om veral behoeftige meisies en vroue deur verskeie inisiatiewe by te staan en te bemagtig. Dít sluit onder meer die #HelpHetta-projek, wat sanitêre ware en higiëniese produkte aan meisies verskaf, die Susanna Smit-studiefonds, werkskeppingsgeleenthede en die Droomrokke-projek in.

 

Die bundel is die fonds se nuutste projek en die gedigte daarin handel oor verlies en die pad na hoop. “Veral in hierdie moeilike tye voel ons dat hierdie woorde werklik ʼn verskil in die gemoedstoestand sal maak, asook hoop vir die vroue van Suid-Afrika sal bring,” sê Roux, wat op ’n kwesbare manier haar emosies oor onder meer haar onlangse miskraam en die afsterwe van haar pa in die bundel neergepen het.

Op dieselfde eerlike manier deel Strauss ook onder meer boodskappe oor haar egskeiding en die herstelpad na afloop van groot teleurstelling. Sy sê ook dat die bundel vir haar nie net ’n viering van vroue is nie, maar ook ’n viering van Afrikaans is. “Woorde het ontsettend baie krag. Ons doel en droom is dat vroue krag in hierdie digbundel sal vind deur nie net die woorde te lees nie, maar hulle ook uit te leef.”

 

50% van die wins van hierdie digbundel gaan aan die FroueVonds geskenk word om 3 000 behoeftige jong dames in Suid-Afrika van sanitêre ware te voorsien, asook om jong, behoeftige vroue in staat te stel om deur die Susanna Smit-studiefonds te gaan studeer.

Laurika Rauch en Anice Kruger (brandslagoffer Pippi Kruger se ma) het elk ook ’n resensie oor die digbundel geskryf wat ook daarin gepubliseer is. Rauch skryf: “Watter mens, watter vrou, kan nie met hierdie woorde identifiseer nie? Na selfs net die eerste deurlees van Steeds Vrou het ek ook ’n ‘ongelooflike ligte ervaring’ beleef, maar bowenal het ek ’n plek van stilte en woorde gevind wat ek nodig het om my eie gevoelens mee te beskryf.”

Steeds Vrou is beskikbaar teen slegs R120 en kan by www.steedsvrou.co.za of Kraal Uitgewers bestel word. Vir meer inligting oor die FroueVonds besoek https://helpendehand.co.za/frouevonds/

René en Alta lees elkeen ‘n gedig uit die bundel:

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN