Header Artwork
Voedselsekerheid van alle kante bedreig

Deur Marthinus Koekemoer

Te oordeel aan mediaberigte die afgelope tyd staan die Landbank op die rand van ineenstorting.

Vanjaar stuur die bank af op verliese van ’n rapsie meer as R1 miljard. Dit klink sleg, of hoe? In die vorige boekjaar was hierdie syfer selfs hoër met ’n verlies van nagenoeg R1,3 miljard. En dit ná ’n reddingsboei van R3 miljard reeds in die bank se rigting gegooi is. Na verwagting gaan ’n verdere R7 miljard nodig wees vir dié bank om kop bo water te hou.

Dis ook nie asof die bank se vooruitsigte om die skip weer in die regte rigting te stuur juis belowend lyk nie. Verdere verliese word in die volgende boekjaar verwag. In April verlede jaar kon die bank nie al sy rekeninge betaal nie. Vanselfsprekend ondervind die Landbank likwiditeitsprobleme. Dit op sy beurt het ’n negatiewe uitwerking op landbou met die bank wat amper 30% van die skuld van dié bedryf dra.

Die bank lê die skuld vir sy probleme voor die deur van wanbetalers van lenings wat die bank toegestaan het. Dit sal naïef wees om te dink alle lenings wat ’n bank toestaan sal ten volle terugbetaal word. Maar om in ’n situasie te beland waar die voortbestaan van die bank in gedrang kom spreek van swak bestuur of ooglopende korrupsie. Dit klink asof dié bank op dieselfde pad as die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) is. Dis nou reguit en met ’n spoed oor die afgrond.

’n Omkeerplan is voorgestel wat herstrukturering van sy skuldboek insluit, wat ook al dit mag beteken, en dan word daar beplan om die bank se bedrywighede in twee te verdeel. En ja, een van hierdie dele sal ’n transformasie-onderneming wees. Is daar enigiets in Suid-Afrika wat getransformeer is wat op ’n sukses uitgeloop het?

Ongetwyfeld is daar verskeie boere wat nie ’n aand se slaap oor die Landbank se beroerde situasie sal verloor nie, maar daar is ook duisende wie se lot direk aan die welvarendheid van die bank gekoppel is. Dan is daar ook onteiening sonder vergoeding wat soos ’n valbyl oor die koppe van grondeienaars en veral boere in die land hang om nie eens te praat van plaasaanvalle nie. ’n Mens bewonder boere wat ten spyte van al hierdie dinge steeds suksesvol is.

Die ANC-regering maak graag uitsprake oor die belangrikheid van voedselsekerheid, maar hul dade getuig nie hiervan nie. Duidelik sal ’n “gesonde” Landbank ’n groot bydra tot voedselsekerheid maak. So ook sal boere meer op hul gemak wees as hulle nie hoef te bekommer dat hulle hul plase gaan verloor nie of vir hul lewens hoef te vrees nie. Selfs in Zimbabwe het die regering onlangs wakker geskrik en wit boere, wat tydens Robert Mugabe se regime van hul plase verjaag is, probeer terug lok om die landbousektor in hierdie land reg te ruk.

In Suid-Afrika ontken president Cyril Ramaphosa die realiteit van plaasaanvalle en Bheki Cele, die minister van polisie, wil boere verder teikens maak deur hulle van hul wettige vuurwapens te ontneem.

Ondanks al hierdie uitdagings het die landbousektor in die tweede kwartaal van 2020 met meer as 15% gegroei. Voorts het uitvoere ’n hupstoot gekry en het landbouprodukte van April tot Augustus verlede jaar gemiddeld R16 miljard per maand verdien. Veral gesien in die lig van die huidige werkloosheidsyfers, wat nou die hoogste in die wêreld is, is landbou se rol in Suid-Afrika belangriker as ooit om die ekonomie aan die gang te hou en te stimuleer. Agri SA het al in 2019 gesê landbou kan Suid-Afrika uit sy werkloosheid-krisis lig.

Dis een ding om te praat van voedselsekerheid, maar die regering se frustrerende beleide maak dit vir boere uiters moeilik om positief te bly en te floreer. Dis hoog tyd dat die regering boere die nodige erkenning begin gee wat hulle verdien én hulle begin behandel soos die skitterende juwele wat hulle in ’n donker ekonomie en arbeidsomgewing is.

*Foto’s: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN