Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy sewe strategiese doelwitte in die vorm van ’n veg-en-bou-plan bekendgestel. Hierdie doelwitte is aanduidend van AfriForum se prioriteite en kernfokuspunte in 2021 en die tyd wat voorlê. Daarmee saam stel AfriForum ook vandag MD Greyling se lied, “Veg en Bou”, bekend.
“AfriForum se visie is om ’n toekoms te skep waar Afrikaners vry, veilig en voorspoedig hier aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan, in vreedsame naasbestaan en met wedersydse erkenning en respek,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.
“AfriForum se missie bepaal hoe ons van voorneme is om hierdie visie te bereik. Dit staan breedweg op twee bene. Eerstens wil ons die bestaande werklikhede op ’n sinvolle manier beïnvloed. Tweedens wil ons nuwe ‘werklikhede’ skep deur selfstandige gemeenskappe en sterk gemeenskapsinstellings te bou en ondersteun. Hierdie plan kan in twee eenvoudige woorde opgesom word: ‘veg’ en ‘bou’.”
AfriForum se veg-en-bou-plan staan op vyf oorhoofse kernfokuspunte, naamlik:
- Veiligheid
- Selfstandigheid
- Geregtigheid
- Identiteit
- Organisasiebou
Die sewe strategiese doelwitte wat uit hierdie vyf kernfokuspunte spruit, is die volgende:
- Die bevordering van selfbestuur
- Die vestiging van AfriForum as grondvlakbeweging
- Die bevordering van gemeenskapsdenke
- Die internasionalisering van Afrikaners se stryd
- Posisionering in die hoofstroom
- Die besieling van Afrikaners
- Organisasiedoeltreffendheid
Lees die volledige veg-en-bou-plan hier.
Kyk hier na die musiekvideo van MD Greyling se lied, “Veg en Bou”.