Header Artwork
Sukses: Hof staan mandamus-aansoek toe oor ongerymdhede by Mmabana Stigting vir Kuns, Kultuur en Sport toe   

Die Noordwes Hooggeregshof in Mmabatho het vandag ’n mandamus-aansoek toegestaan wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid namens Phatolo Kau opgestel en teen die premier van Noordwes, die Departement van Kuns, Kultuur, Sport  en Rekreasie, die Mmabana Stigting vir Kuns, Kultuur en Sport, en die president van Suid-Afrika gebring het. Die aansoek is daarop gemik om die premier te dwing om ’n besluit te neem oor optrede ná ’n forensiese ondersoek. Die premier moet nou binne 14 dae inligting verskaf oor watter stappe hy gaan doen om die aanbevelings in werking te stel – al dan nie – wat in die forensiese verslag bevat word. Die hof het ook gelas dat die respondente die kostes van die aansoek moet betaal.

Kau het reeds in Oktober 2014 as hoof van menslike hulpbronne by dié Stigting sekere ongerymdhede by die premier van Noordwes aangemeld, waarna die premier ’n forensiese ondersoek daarna versoek het. Die privaat ondersoekmaatskappy Nexus Forensic Services is aangestel om die ondersoek te behartig, wat volgens dié maatskappy reeds in Augustus 2016 voltooi is. Dit het onder Kau se aandag gekom dat die verslag aanbevelings insluit wat behels dat die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ’n verdere strafregtelike ondersoek na die ongerymdhede moet doen.

Kau het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 genader nadat die premier versuim het om op sy skrywes te reageer om ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting toegang tot die verslag te kry. Die privaatvervolgingseenheid het ook skrywes aan die premier gerig en daarna selfs aan President Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as hoof van die uitvoerende gesag van die Republiek.

Volgens Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verwelkom die eenheid die hof se beslissing in Kau se guns. “Die premier se kantoor het vroeër vandeesweek die volledige forensiese verslag aan ons gestuur in wat blyk ’n poging is om te keer dat die aansoek vandag voortgaan. Dit het egter klaaglik misluk  en ten spyte daarvan dat die premier ’n kortpad wou neem, het die aansoek geslaag. Dit was uit die staanspoor ’n eenvoudige saak wat maklik deur die premier opgeklaar kon word. Die mandamus-aansoek was die laaste uitweg nadat geen van die respondente die verslag verskaf het nie. Nou word die premier gedwing om ’n finale besluit te maak oor die inwerkingstelling van die aanbevelings in die verslag. Dit behels veral besluite oor die Valke se verdere ondersoek, asook dat die Departement van Kuns, Kultuur, Sport en Rekreasie vir Kau sal inlig van enige aksie – of nie – wat teen die oortreders geneem sal word wat in die verslag geïdentifiseer word.”

Volgens Swanepoel behoort politici en amptenare kennis te neem van die gevolge wanneer ondersoekverslae bloot ignoreer word. “Daar is ongelukkig ’n groeiende gewaarwording dat die staat slegs optree indien die howe hulle daartoe verplig. Die premierskantoor word nou nie net verplig om sy plig te doen nie, maar het deur dié optrede vir hulself ’n kostebevel op die hals gehaal. Dié kostes word ongelukkig verhaal vanuit belastinggeld wat in dié tyd veel beter aangewend kon word. Al wat ons met hierdie aansoek wou bereik, is dat die premier sy plig doen. Die privaatvervolgingseenheid sal nie skroom om die staat tot aksie te dwing in gevalle waar korrupsie of ander aantygings van misdaad bloot onder die mat gevee word nie.”

  • Sien skakel na vorige verklaring:

AfriForum ondersteun fluitjieblaser met mandamus-aansoek oor ongerymdhede by Mmabana Stigting – AfriForum.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN