Header Artwork
Hof toe met Dlamini-Zuma oor entstof

AfriForum en Solidariteit gaan voort met die voorbereiding van hofstukke teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma oor die regering se implementeringsplan vir Covid-19-entstowwe. Dit volg nadat dié minister versuim het om op ʼn aanmaning te reageer wat die twee organisasies op 13 Januarie aan haar gestuur het.

Volgens AfriForum het die minister meer as genoeg tyd gehad om antwoorde oor die regering se implementeringsplan met betrekking tot die entstof aan die twee organisasies te verskaf, en dit laat die twee organisasies met geen ander keuse nie as om hulle tot die hof te wend. Te midde van ʼn pandemie speel die regering ʼn roekelose spel deur deursigtigheid te weier.

“Die regering se verswyging van inligting bewys net verder waarom hy nie vertrou kan word met ʼn monopolie met betrekking tot die aankoop en verspreiding van Covid-19-entstowwe nie. ʼn Regering wat nie eens daartoe in staat is om basiese deursigtigheid oor sake van hierdie erns aan die dag te lê nie, kan nie die voordeel van die twyfel gegun word nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Volgens Solidariteit kom die huidige implementeringsplan neer op ʼn nasionalisering van die verspreiding en toediening van dié entstof.

“Daar is tans geen duidelikheid oor die uitrol van die regering se sogenaamde entstofplan nie. Dit is ook nie duidelik waarom drs. Dlamini-Zuma en Mkhize die bevoegdheid het om te weier dat enige iemand anders as die staat entstowwe mag aanskaf nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut. “Dit is jammer dat die ministers hulself nie verwerdig het om antwoorde oor die uitreiking van die entstof te verskaf nie. Daarom word ons nou gedwing om die saak in die hof te voer. In die lig van die wantroue in die regering en hul hantering van die entstowwe-aangeleentheid is uitsonderlike deursigtigheid nou van uiterste belang.

“Niemand voer aan dat die regering nie ook betrokke kan wees by die proses nie, maar daar is absoluut geen rede hoekom hulle die enigste instelling moet wees wat daarby betrokke is nie. Spoed is nou van deurslaggewende belang in ʼn proses wat reeds hopeloos te lank vertraag is. Ons het nou soveel organisasies, instellings en sektore as moontlik nodig wat by die aanskaf en verspreiding van die entstof betrokke is,” verduidelik Mulder.

“Om die entstofprogram alleen aan te pak, is absolute wensdenkery. Die regering is duidelik vasbeslote om te misluk en ons kan dit nie keer nie. Wat ons wel moet doen, is om te keer dat hulle ander belet om te slaag,” sluit Mulder af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN