Header Artwork
AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool en Hoërskool Bultfontein    

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 4 Augustus 2021 by die Laerskool en Hoërskool Bultfontein besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in. 

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Hoërskoolleerders is ook meer ingelig oor die gevare rondom kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.   

“Die Hoërskool Bultfontein is ’n waardegedrewe skool van uitnemende gehalte en ons is trots om ’n blywende assosiasie met AfriForum en hulle spesialisdienste te handhaaf. Die bemagtiging van ons leerders by die Hoërskool Bultfontein om in ’n snelveranderende samelewing, uitnemend te kan presteer, en ook hulle eie identiteit, karakter en unieke kultuur te kan handhaaf, is vir ons ’n kernwaarde waarna ons streef. Die besonderse manier waarop AfriForum se teenboeliepraatjie aangebied is, het die verskillende fasette van bemagtiging van ons leerders en personeel in spesifieke omstandighede holisties uitgebrei. Ons glo dat elke dag se klein belegging in ons jeug se opvoeding, onderrig en bemagtiging vir ons land ’n blink toekoms sal verseker. Dankie AfriForum, julle is ’n baken van lig en hoop,” sê PW van Aswegen, hoof van Laerskool en Hoërskool Bultfontein. 

“Ek nader nou vinnig die einde van my skoolloopbaan en na bykans twaalf jaar op die skoolbanke was ek ook al ’n slagoffer van afknouery. Daar is baie kinders in ons samelewing wat geboelie word en wat die lewe moet ingaan met ’n mentaliteit van ‘ek is nie goed genoeg nie’ of ‘ek is ’n “loser”’. Vir hierdie eenvoudige rede is dit so belangrik dat daar organisasies soos AfriForum by skole betrokke raak sodat daar aan hierdie stukkende kinders hoop gegee kan word, maar om ook die kinders wat hul hieraan skuldig maak, bewus te maak van die uitwerking van hulle optrede. Ek weet dat hierdie tipe aksies selfdood kan verhoed. Dankie vir die hoop wat AfriForum se teenboelieveldtogspan aan my, ’n doodeenvoudige plattelandse meisie kom bied het. Julle het weer lig in my lewe gebring,” sê Shírea Swanepoel, leerder van Hoërskool Bultfontein en AfriForum Jeug se takleier.   

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.  

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN