Header Artwork
AfriForum se Potchefstroom-tak dien kommentaar in tydens GOP-proses

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het onlangs kommentaar ingedien rakende dringende kwessies wat die gemeenskap raak tydens die samestelling van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2021/2022. Die munisipaliteit het ontvangs daarvan erken en ook onderneem om die kommentaar in ag te neem tydens die samestelling van die finale GOP en die gepaardgaande begroting.

Sommige van die dringende kwessies wat die tak onder die munisipaliteit se aandag gebring het in dié kommentaar is onder meer die instandhouding van straatligte, asook die herstel en instandhouding van parke, munisipale paaie en waterpype. Die herstel en instandhouding van hierdie infrastruktuur is van kardinale belang omdat dit moontlike gesondheids- en veiligheidsrisiko’s tot gevolg kan hê indien dit nie gedoen word nie.

Verdere voorstelle is die vervanging en instandhouding van rioolstelsels sodat riool nie in die dorp se strate en omliggende riviere beland nie. Die vullisterrein moet doeltreffend bestuur en in stand gehou word en verkeerstrepe op paaie moet behoorlik geverf word omdat dit nie meer duidelik sigbaar is nie. Daar moet ook begroot word om bevoegde personeel aan te stel om verskeie vakatures te vul sodat die munisipaliteit na behore kan funksioneer.

Sodra die begroting uitgewerk word sal daar bepaal word of dié dringende kwessies wel aangepak kan word.

Kappie van Wyk, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, sê hoewel daar al verskeie vergaderings met die betrokke amptenare in verband met dié kwessies gehou is, is dit wel bemoedigend dat die munisipaliteit op die tak se voorstelle gereageer het. “Daar moet vir hierdie probleme in ons gemeenskap begroot word en dan toegesien word dat die begrote fondse wel reg aangewend word.”

“Ek doen ’n beroep op inwoners om aan openbaredeelnameprosesse deel te neem. Dit help om die munisipaliteit aanspreeklik te hou,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help sodoende om jou omgewing en gemeenskap te verbeter. Skakel Leanie van Ronge by 072 314 1774 om aan te sluit.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN