Header Artwork
AfriForum se Naboomspruit-tak gryp in tydens watertekort

AfriForum se Naboomspruit-tak het besluit om in te gryp gedurende die watertekort wat al sedert die begin van November ’n groot probleem in Naboomspruit is.

Die inwoners van Naboomspruit is sedert 1 November sonder water. Daar kan nie meer water uit die Frikkie Geyser-dam gepomp word nie aangesien die dam leeg is. Daar is tans 19 boorgate wat in die Nylrivier gesink is, waarvan slegs tien werk. Die ander wat oor die jare gesink is, was swak geplaas en as gevolg daarvan is daar twee wat buite werking is, twee wat ingesink het, vier wat op dieselfde aar is en een wat besoedel is.

Die munisipaliteit het vroeg in September twee nuwe boorgate gesink wat na bewering 4 miljoen liter water per dag sal lewer, wat beteken dat hulle steeds 16 miljoen liter water ’n dag minder kry. Hierdie boorgate is steeds nie volledig toegerus nie.

Op 6 November herstel die tak boorgat 5 se pomp en op 9 November word boorgat 11 se pomp herstel wat die dorp toe van bietjie water voorsien het. Op 12 November word twee van die ander boorgate se kabels gesteel en los dit die dorp weer sonder water.

Gemeenskapslede het begin om water aan te ry na diegene in nood en ook hul boorgate beskikbaar gestel vir mense om te kom water skep. AfriForum se Naboomspruit-tak finansier die brandstof van die persone wat water aanry.

Op 17 November het een van die elektriese onderdele op die pomp, wat water na die reservoir pomp, gebrand en AfriForum word genader vir hulp aangesien die munisipaliteit geen onderdele aanhou nie. Die tak het spoedig die onderdeel aangekoop en dieselfde dag nog die boorgat herstel.

“Die munisipaliteit bly verantwoordelik vir hierdie probleme. Dit is duidelik in die hofbevel uiteengesit dat hulle verantwoordelik is om die infrastruktuur te onderhou,” sê Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“Ons sal moet ingryp, ons mense kan nie so aangaan nie. Dit is tyd om selfdoen aan te moedig om ’n verskil te maak,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Raak betrokke by die AfriForum-tak in Naboomspruit: SMS jou naam na 45340 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN