Header Artwork
AfriForum praat oor haatspraak teen Suid-Afrikaanse minderheidsgroepe tydens VN se Forum vir Minderheidskwessies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het deelgeneem aan die dertiende sessie van die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidskwessies. Vanjaar se tema was “Haatspraak, Sosiale Media en Minderheidsgroepe.” Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie, het ’n regstreekse videovoorlegging gedoen oor haatspraak teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika.

“Haatspraak wat gemik is op minderheidsgroepe in Suid-Afrika is ’n voortdurende en ernstige kwessie. Wanneer nuus oor ’n plaasmoord in die media gepubliseer word, is daar gereeld opmerkings in die sosiale media waar mense juig oor die moord, of vir minderheidsgroepe sê hulle moet ‘teruggaan Europa toe’,” sê Roets.

“Die krisis is nie net beperk tot sosiale media nie en verder doen die regering niks daaraan nie. Haatspraak word gereeld deur invloedryke politici en leiers van die regering en regerende party geuiter. Haatspraakliedere soos “Kill the Boer, kill the farmer”, “One bullet, one settler”, “Shoot the Boer” en variasies daarvan word gereeld gesing.”

Volgens Roets het haatspraak werklike gevolge. In ’n studie wat die organisasie oor hoëprofiel insidente van haatspraak gedoen het, is bevind dat plaasmoorde en –aanvalle toeneem in die maande nadat sulke uitsprake gemaak en in die media gerapporteer is.

“AfriForum se voorlegging by die VN se Forum vir Minderheidskwessies is deel van ons veldtog om die internasionale gemeenskap bewus te maak van wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur. Die wêreld moet weet – en ons maak reeds vordering om daardie doel te bereik,” sluit Roets af.

As deel van AfriForum se veldtog teen haatspraak gemik teen minderheidsgroepe het die organisasie ’n video gemaak om voorbeelde waar opspraakwekkende en skokkende gevalle van haatspraak plaasgevind het, onder mense se aandag te bring, asook om aan te dui hoe mense AfriForum kan help in die stryd teen haatspraak. Die video is hier beskikbaar: https://www.youtube.com/watch?v=b10Pu1Fsh2A

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN