Header Artwork
AfriForum gaan herskryf van eksamen in hof teenstaan

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan op Woensdag 9 Desember 2020 vier matrikulante bystaan in ’n dringende hofaansoek in die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof in Pretoria om Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se besluit dat die twee eksamens waar vraestelle na bewering uitgelek het, deur alle betrokke matrieks oorgeskryf moet word, om te keer.

Dit volg nadat Motshekga op 4 Desember aangekondig het dat matrieks die eindeksamen in sowel Wiskunde II as Fisiese Wetenskap II moet oorskryf. AfriForum en die vier matrikulante wat hierdeur geraak word, is die applikante in die hofsaak. Hierdie besluit van die minister is geneem sonder dat enige verteenwoordigende liggaam van matriekleerders daaroor geraadpleeg is.

Dit het ook die naweek aan die lig gekom dat die minister haar besluit geneem het op grond van ’n interimverslag wat aangetoon het dat sowat 195 leerders insae in die vraestelle gehad het en dat die meeste van die leerders wat toegang tot die vraestelle gekry het, aan ’n WhatsApp-groep van toppresteerders behoort wat deur die departement self uitgesoek is vir voorkeurbehandeling en ondersteuning.

Volgens Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum, gaan die burgerregteorganisasie hierdie besluit teenstaan aangesien dit nagenoeg 400 000 matrieks onregverdig gaan benadeel wat dié eksamen eerlik afgelê het. “Die departement behoort te fokus op die vastrek van die skuldiges wat wel oneerlik opgetree het en die gelekte vraestelle gebruik en beskikbaar gestel het.”

Die departement se eie regulasies bepaal dat indien enige onreëlmatigheid nie deur die kandidaat (wat die eksamen afgelê het) se handeling voortgespruit het nie en as die kandidaat geen voordeel daaruit getrek het nie, móét die eksamenantwoordstel nagesien word en die uitslag bekend gemaak word.

Venter is ook van mening dat daar maniere is om vas te stel watter leerders wel onregverdige voordeel uit die gelekte vraestelle getrek het en dat die departement op diesulke ondersoeke behoort te fokus eerder as om ander leerders te benadeel. “Navorsing het bewys dat leerders se punte in finale eksamens met 93% akkuraatheid bepaal kan word deur hulle voorafgaande punte te bestudeer.

“Ons kan nie toelaat dat Motshekga en haar departement nou leerders benadeel wat hard geleer het deur hulle hele skoolloopbaan nie – en dit omdat die departement se stelsels nie voldoende was om in die eerste plek te keer dat die vraestelle uitgelek word nie. Daar is ander, beter maniere om die integriteit van die eksamen te verseker,” sluit Venter af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN