Header Artwork
AfriForum en Mookgophong-Modimolle Plaaslike Munisipaliteit sluit adviesooreenkoms

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die Mookgophong-Modimolle Plaaslike Munisipaliteit het vandeesweek ’n geskiedkundige adviesooreenkoms gesluit. Die ooreenkoms bepaal onder meer dat AfriForum die munisipaliteit sal bystaan met advies oor water- en sanitasiedienste, asook toegang tot die aanlegte en munisipale inligting daaroor sal hê.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is die ooreenkoms ’n eerste van sy soort vir AfriForum. “Die munisipaliteit se gewilligheid om ’n ooreenkoms met AfriForum vir adviesdienste te sluit, is ’n groot stap na ’n meer deelnemende bestuursmodel vir munisipaliteite en gemeenskapsgebaseerde organisasies. Ons het toegang tot geweldige spesialiskennis en -ervaring binne ons ledebasis en ekstern en ons wil munisipaliteite help om uitnemende vlakke van dienslewering te bereik.”

Marlene van Staden, burgemeester van die munisipaliteit, sê AfriForum se advies en bystand is welkom en die tyd vir só ’n ooreenkoms is ryp. “Oor die laaste termyn was dit ons uitdruklike oogmerk om dienslewering aan alle gemeenskappe te verbeter. Dit vat egter tyd en kennis om jare se verwaarlosing en ondoeltreffende stelsels om te keer en daarom huiwer ons glad nie om hande te vat met gemeenskapsorganisasies wat gewillig is om ’n bydrae te lewer nie.”

Kruger bevestig verder dat die Munisipale Stelselswet en ander wetgewing ruimtes laat vir gemeenskapsorganisasies om betrokke te raak, nie alleen by die lewering van advies nie, maar ook met betrekking tot die lewering van dienste. “AfriForum en sy filiaal – die dienstemaatskappy Pionier – het met die suksesvolle bestuur van Koster en Swartruggens se water- en rioolaanlegte in die onlangse verlede gesien dat gemeenskappe groter deelname in die bestuur van dienste suksesvol kan laat geskied. Hopelik sal dit ander munisipaliteite wie se water- en riooldienste in ’n benarde toestand is motiveer om saam met AfriForum te werk sodat behoorlike en betroubare dienste aan alle gemeenskappe gelewer kan word.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN