Header Artwork
AfriForum eis dat vullisverwydering van belastingbetalers se munisipale rekeninge verwyder word   

AfriForum het op 18 Mei 2021 geëis dat belastingbetalers wat van alternatiewe vullisverwyderingsdienste gebruik maak nie meer vir munisipale vullisverwydering moet betaal nie. Die burgerregteorganisasie het ’n skrywe aan adv. Tankiso Mea, waarnemende munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, gerig. Dié metro het die afgelope jaar versuim om volhoubare en gereelde vullisverwydering aan die inwoners van Bloemfontein te lewer.

AfriForum dring in die skrywe daarop aan dat inwoners wat van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak nie meer die metro se dienste gebruik nie en daarom is dit onredelik van die metro om te verwag dat die inwoners dubbel vir die diens moet betaal. AfriForum eis ook dat die metro R70 500 se koste aan die organisasie terugbetaal wat tot op hede vanjaar spandeer is om vullis te verwyder. Die organisasie het verder ’n lys wat nagenoeg 130 inwoners se name en munisipale rekeningnommers bevat aan die metro gestuur om die saak te stel dat hierdie inwoners reeds ’n geruime tyd lank betaal vir dienste wat hulle nie gebruik nie.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, word daar duidelik in die jaarlikse heffings-, tariewe- en belastingdokument vir 2020/2021 uiteengesit dat slegs inwoners wat van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak, daarvoor moet betaal. Tog is dit nie die geval nie.

Verder erken die metro self in sy konsep- geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2021/2022 dat hy probleme met vullisverwydering ervaar en dat dit nie “op ’n gereëlde basis” gedoen word nie.

“Ons het die Mangaung-metro 14 dae gegee om op ons skrywe te reageer en indien ons nie gelukkig is met hulle antwoord nie sal ons verdere regstappe teen die metro doen,” voeg Grobbelaar by.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om ook die saak te ondersteun deur die organisasie se petisie te onderteken wat by die metro ingehandig sal word om die ontevredenheid van die inwoners te wys. https://antiek.afriforum.co.za/vullisverwydering-in-bloemfontein-2/

Inwoners kan ook “Vullis” na 45350 (R1) SMS om by AfriForum se vullisverwyderingsdienste betrokke te raak en sodoende die aksie te ondersteun.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN