Header Artwork
Wetsontwerp op Onteiening dryf rasseagenda en wil staat meer mag gee

Deur Alet Rademeyer

Die Wetsontwerp op Onteiening het nie ten doel om ongeregtighede van die verlede reg te stel nie, maar is eerder daarop gemik om ’n rasseagenda te dryf en die staat meer mag te gee.

Só het Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie, vandag in sy mondelingse voorlegging aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Openbare Werke en Infrastruktuur teen die Wetsontwerp op Onteiening gesê. Die sessie is via Zoom gehou.

Roets het gesê die voorgestelde Wetsontwerp sal die teenoorgestelde van vryheid, geregtigheid, gelykheid en werkskepping bereik.

Volgens Roets sal die Wetsontwerp vernietigende gevolge vir Suid-Afrikaners se lewens en die ekonomie hê. Hy het gewys op statistieke wat daarop dui dat die meerderheid landsburgers nie ’n honger na grond het soos wat dikwels deur sekere politici voorgehou word nie. Hulle wil eerder geld hê. Daarbenewens het 90% van grondhervormingsprojekte totaal misluk en is net 6% van grond wat die regering verkry het na privaat eienaars oorgedra. Net 1% van Suid-Afrikaners glo dat grondhervorming hul lewens sal verbeter.

Roets meen die Wetsontwerp is ’n halfgebakte sosialistiese beleid waar feite en bewyse nie in ag geneem is nie. Hy het ook verwys na ander lande soos kommunistiese China, Venezuela en Zimbabwe waar onteiening sonder vergoeding ’n klaaglike mislukking was.

Mathole Motshekga, voorsitter van die komitee, het dit aan Roets gestel dat die Freedom Charter van die land daarop wys dat alle burgers van die land saam na oplossings vir probleme moet soek. Hy het gevra waarom Roets na die VN gehardloop het om die kwessie van onteiening sonder vergoeding te opper en of hy dan nie vertroue in die mense van die land het nie. Roets het hierop gesê hy het vertroue in die mense van die land, maar die meeste lede in die parlement wat die mense moet verteenwoordig, is uit voeling met die werklikheid. Hulle het nie vertroue in die Parlement nie.

Die Wetsontwerp is in Oktober 2020 gepubliseer en aan die parlement en die betrokke komitees voorgelê om die grondwetlikheid en bepalings daarvan te bespreek. Die publiek kon skriftelike kommentaar op die Wetsontwerp lewer tot en met 28 Februarie 2021. AfriForum het dit ook ingedien.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN