Header Artwork
Vullisterreinoudit: Munisipale verval is ooglopend

AfriForum het vandag die organisasie se jaarlikse vullisterreinouditverslag bekendgestel nadat vullisterreine in dorpe/stede waar AfriForum se takke geleë is, vroeër vanjaar geoudit is. Dié verslag gaan met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, bespreek word as ’n deurlopende gesprek wat reeds in 2019 begin het en gaan ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek. Slegs 17% (27 van 153) van dié terreine voldoen aan die minimum vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008).

Kragtens die wetgewing moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. ’n Lys met 33 vrae is saamgestel met hierdie minimum standaarde as riglyn en dié vrae is gebruik om die vullisterreinoudit te doen.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat lei tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine. Wanbesteding van fondse, swak instandhouding en ’n gebrek aan bekwame personeel is maar ’n paar van die probleme wat ons daagliks ondervind. Die grootste uitdaging is dat daar amptenare in munisipaliteite is wat weet hulle swak bestuur hou geen gevolge vir hulle in nie. Dit is kommerwekkend om te weet die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika voldoen nie eens aan die minimum vereistes nie, maar terselfdertyd is dit verstaanbaar aangesien geen munisipaliteite tot verantwoording gebring word oor die wanbestuur nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

Die merkwaardigste waarneming is dat verskeie terreine gesluit het; ook dat sommige terreine wat nog operasioneel is, volgens hulle lisensies reeds moes gesluit het. Dit wek kommer omdat dit beteken dat daar nie meer vullisterreine in sekere dorpe of stede is nie –wat waarskynlik tot onwettige storting sal lei.

“Daar is reeds sedert 2019 se vullisterreinoudit met Creecy vergader en daar was deurlopend gekommunikeer met die minister en haar span. Daar is nou ses terreine identifiseer wat ons poog om te herstel. In Mei 2021 is daar besluit om daadwerklik saam te werk en besoeke af te lê aan die ses terreine en te werk aan oplossings om die terreine se uitdagings aan te spreek. Een van die opsies is om ’n openbare-gemeenskapvennootskap (OGV) te vestig,” sê De Klerk.

Dit is baie belangrik om afvalmoniteringskomitees vir vullisterreine te stig om munisipale amptenare verantwoordbaar te hou. Gemeenskappe kan die volgende stappe volg om volhoubare verbeterings by ’n vullisterrein te bewerkstellig:

  • Gemeenskappe moet druk op munisipaliteite plaas om afvalmoniteringskomitees te stig.
  • ’n Vergadering moet een keer per maand gehou word waartydens die toestand van die vullisterrein bespreek en doelwitte met haalbare tydperke gestel word.
  • Bou goeie verhoudings met die munisipaliteite en betrokke rolspelers.
  • Dring aan op die aanstelling van ’n betroubare diensverskaffer wat bevoeg is om die werk te doen.
  • Pas volhoubare druk toe via die afvalmoniteringskomitee om seker te maak dat die doelwitte wat gestel is, bereik word.
  • Neem voltyds deel aan die gemeenskapsontwikkelingsplan (GOP) en lys die kwessies rondom die terreine.

De Klerk sê verder dit is nou tyd dat die regering op munisipale vlak toetree om oplossings soos die OGV na vore te bring voordat totale munisipale infrastrukture in duie stort. Die regering en munisipaliteite kan nie eers hulle eie planne soos die geïntegreerde vullisbestuurplan (IWMP) toe pas nie en dit is waar plaaslike gemeenskappe hulle kan bystaan om deel van die oplossing te wees.

De Klerk meen munisipaliteite moet na dié soort oplossings begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ’n aanvaarbare standaard te kry. “AfriForum sal graag met die implementering van oplossings wil help en moedig munisipaliteite ook aan om met die organisasie in verbinding te tree. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ’n skoner Suid-Afrika bydra.”

Vullisterreinouditverslag 2021-AFR

Só het die vullisterreine per provinsie gevaar ten opsigte van die minimum vereistes:

Provinsie Getal vullisterreine wat geoudit is Getal vullisterreine wat aan meer as 80% van die minimum vereistes voldoen Getal vullisterreine wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie
  2021 2021 2021
Gauteng 17 9 8
KwaZulu-Natal 9 1 8
Limpopo 11 1 10
Mpumalanga 21 1 20
Noord-Kaap 16 1 15
Noordwes 21 2 19
Oos-Kaap 7 0 7
Vrystaat 24 0 24
Wes-Kaap 27 12 15
Nasionale totaal 153 27 126

Help om jóú omgewing skoon en netjies te hou: SMS jou dorp se naam na 45354 (R1) en sluit by dié inisiatief aan.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN