Header Artwork
Swartruggens-inwoners herstel self krag- en watertoevoer

Die dienstemaatskappy Pionier en die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) het Sondagnag/Maandagoggend in die middernagtelike ure gehelp om die krag- en watertoevoer na inwoners in Swartruggens te herstel nadat dié dorp vir etlike dae sonder elektrisiteit was. Die kragonderbreking het onder meer veroorsaak dat die pompstasie wat deur die organisasies bestuur word, nie water aan die Swartruggens-gemeenskap kon voorsien nie.

’n Nuwe kragkabel is aangekoop en die werk is self verrig om te verseker dat die inwoners krag en water het. Die pompkamer by die Boralelo-nedersetting het ook onder vandale deurgeloop wat die slot oopgebreek het en die drade geknip het. ’n Saak van sabotasie is by SAPD in die dorp geopen. Inwoners het ook ’n protesoptrede gehou en paaie versper om hul moedeloosheid te toon met die munisipaliteit se versuim om herstel- en instandhoudingswerk te doen.

AfriForum het die munisipaliteit Vrydag op terme geplaas om die munisipaliteit te dwing om die nodige stappe te doen om die kragtoevoer te herstel. Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, is die protesoptredes deur die gemeenskap tekenend van die frustrasies wat onder inwoners bestaan weens gebrekkig dienslewering. “Swartruggens is ’n mikrokosmos van die land se munisipale probleme. Ons voorsien heelwat soortgelyke protesoptredes deur gefrustreerde gemeenskapslede in aanloop tot die munisipale verkiesing later vanjaar.”

“Ten spyte van sabotasie deur kwaadwillige groepe vir politieke gewin en ten spyte van munisipale onwilligheid en die onvermoë om probleme uit die weg te ruim, het gemeenskapslede gisteraand weer bewys dat gemeenskappe geen ander keuse het as om self in te gryp en dienste te lewer nie.” Pionier is trots om saam met die plaaslike gemeenskap te werk om probleme op te los en om volhoubare dienslewering in gemeenskappe te bewerkstellig. Die gemeenskap se selfdoeninisiatief saam met Pionier se personeel is ’n riem onder die hart,” se Johan Kruger, direkteur van Pionier Dienstemaatskappy.

Volgens Wilhelm Rochér, plaaslike gemeenskapsleier, het die gemeenskap ’n trotse rekord van selfdoen en om probleme in die gemeenskap op te los. “Ons is trots om die gemeenskap tydens staatsverval en die munisipaliteit se nalatigheid te hulp te kom, om self in te spring en reg te maak. Die Boralelo-nedersetting het ná ons ingryping weer water en kan die komende vakansiedag met waardigheid en met lopende, skoon water tegemoetgaan.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN