Header Artwork
Suksesse vir AfriForum se Bothaville-buurtwag in Junie  

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville het in Junie verskeie suksesse behaal, benewens die feit dat hulle gereeld patrollies ry om die gemeenskap veilig te hou.

Die buurtwag is uitgeroep na ’n toneel waar skoolkinders besig was om die monument in Fonteinstraat te bekrap. Hulle is aangekeer en moes die monument skoonmaak. Daar is egter ook ’n saak geopen, aangesien dieselfde groep kinders telkens opgemerk word waar hulle misdrywe pleeg. Die saak is met die ouers sowel as met ’n maatskaplike werker opgeneem.  

Daar was ook ’n noodoproep oor ’n vrou en haar twee kinders wat deur haar gewese vriend ontvoer is. In ’n gesamentlike poging deur die AfriForum-buurtwag, Landelike Beveiliging en die SAPD is die verdagte vasgetrek.  

Die buurtwag en Landelike Beveiliging het ook saam op ’n noodoproep gereageer rakende ’n brand wat in ’n woonstel uitgebreek het. Die brand is binne minute geblus.  

“Daar is goeie samewerking tussen al die rolspelers en inligting word uitgeruil wat take baie vergemaklik. Ons doen egter ’n beroep op die publiek om sake aan die SAPD te rapporteer. Daar is gevalle waar gesteelde goed teruggekry word, maar geen saak is geopen nie. As so iets gebeur dan word die verdagtes vrygelaat,” sê Gawie Pretorius, leier van die Bothaville-buurtwag. “Dit help ook die buurtwag om probleempunte en -areas te identifiseer en meer patrollies word dan in daardie gebied gery.” 

“Hierdie is weereens ’n bewys dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek. 

“Die samewerking tussen die verskillende veiligheidsinstansies in en om Bothaville en hulle samewerking met die SAPD is werklik verblydend. Ek het groot waardering vir die werk wat die buurtwag doen. Samewerking is die enigste manier waarop misdaad doeltreffend bekamp kan word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. 

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak. 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN