Header Artwork
Skikking: Saamgestelde ivermektien nou toeganklik en beskikbaar op doktersvoorskrif

Die burgerregteorganisasie AfriForum en dr. George Coetzee het sukses behaal nadat ’n skikking oor die samestelling en beskikbaarstelling van ivermektien met die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) bereik is.

Dié skikking bepaal onder meer dat ’n medisyne wat ivermektien as ’n aktiewe bestanddeel bevat op 16 Maart 2021 deur SAHPRA ingevolge die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe 101 van 1965 geregistreer is. Die effek van dié registrasie is dat ivermektien saamgestel mag word en die beskikbaarstelling van en toegang tot ivermektien kan daarom ingevolge artikel 14(4) van die Wet plaasvind. Die skikking bepaal ook dat SAHPRA en die Minister van Gesondheid, gesamentlik en afsonderlik, ’n bydrae van R500 000 (plus BTW) tot die koste van die applikante sal betaal.

“Ons weet almal dat COVID-19 ’n gevaarlike siekte is, en ongelukkig is daar geen enkele wonderkuur wat die pandemie eiehandig kan oorwin nie. Die belangrikste faktor in die stryd teen COVID-19 is elke mens se eie immuunstelsel. Ivermektien lewer ’n groot bydrae in dié verband en daarom is die toegang tot en die beskikbaarheid daarvan veral vir die meer kwesbares en behoeftige meerderheid van die bevolking onontbeerlik vir ons om mense gesond te kan maak. Hierdie skikking bring vir my groot vreugde omdat dit ’n groot oorwinning vir pasiënte en dokters is wat hul eed om mense gesond te maak met erns bejeën,” sê dr. Coetzee, wat ook die eerste applikant in dié geding is.

“Die skikking beteken prakties dat dokters ivermektien aan pasiënte kan voorskryf indien hul oordeel dat dit nodig is. Pasiënte kan dan dié voorskrif by enige apteek waar saamgestelde ivermektien beskikbaar is, gaan indien en ivermektien aankoop. Geen artikel 21-aansoek of -rapportering is nodig vir saamgestelde ivermektien nie. Ons is baie bly omdat maklike toegang tot ivermektien vir dokters en pasiënte nou moontlik is,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum.

Omdat ’n medisyne wat ivermektien as aktiewe bestanddeel bevat nou geregistreer is en ivermektien as ’n skedule 3 middel gelys is, kan ivermektien nou vir ander gebruike as wat op die geregistreerde medisyne se etiket staan (“off-label”) deur dokters gebruik word, wat die behandeling van COVID-19 insluit.

Die skikking is nog nie ’n bevel van die hof nie en die saak word Donderdag voortgesit.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN