Header Artwork
Regering erken in hofstukke privaatsektor mag Covid-19-entstowwe koop

AfriForum en Solidariteit het vandag aangekondig dat die regering onder eed in sy hofstukke erken het dat daar geen wetlike beperking op die aankoop van Covid-19-entstowwe deur die privaatsektor is nie. Dit volg nadat die twee organisasies met regsaksie teen die regering gedreig het om enige wetlike uitsluiting van die privaatsektor, met die aankoop van entstowwe, ongrondwetlik te verklaar.

“Die staat het ’n geskiedenis van mislukking. Die SAL het geval, Eskom het ons ligte afgesit, munisipaliteite is bankrot en Denel kan nie salarisse betaal nie. Die regering het nie die vermoë om alleen die entstofproses te bestuur nie. Dit sluit aankope in. Die privaatsektor moet betrokke wees by die volle entstofwaardeketting – van aankope tot toediening. Om dit te verseker het Solidariteit en AfriForum hof toe gegaan om die nasionalisering van die entstofproses te verhoed,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Volgens dié organisasies het die regering politieke mag gebruik om openbare indruk te skep en onsekerheid met betrekking tot die aankoop en verkoop van entstowwe te saai met sy uitsprake en publikasies waarin hy pertinent noem dat hy van voorneme is om die totale entstofproses, van aankope tot toediening, te beheer. Dit volg na uitlatings deur die minister van gesondheid wat onder andere gesê het dat die aankoop van entstowwe deur die sentrale regering bestuur gaan word en op 18 Februarie in KwaZulu-Natal genoem het dat die nasionale regering verantwoordelik is vir die direkte aankoop van entstowwe. In die parlement het hy gesê dat sentrale aankope die beste opsie vir alle mense in Suid-Afrika sal wees. Hy het verder gesê die privaatsektor kan entstowwe by die regering koop. In die regering se entstof uitrolstrategie sê hulle ook dat die proses nasionaal gelei gaan word. In die sogenaamde reaksiestrategie word gesê: “The SA government will be the sole purchaser for the vaccines in the country.”

“Die regering het nou onder eed in sy hofstukke erken dat daar geen statutêre beperking op die aankoop van entstowwe deur die privaatsektor is nie. Daar is nou regsekerheid dat die privaatsektor entstowwe mag aankoop en versprei – ’n reuseterugslag vir plunderaars,” sê Hermann.

“Die tydlyn van gebeure wat verband hou met hierdie saak, het dit duidelik gemaak dat die regering se weiering om AfriForum en Solidariteit se prokureursbrief te beantwoord, tot grootskaalse verwarring en ’n skokkende gebrek aan deursigtigheid in ’n dringende saak gelei het. AfriForum en Solidariteit moes ’n hofsaak van stapel stuur om uiteindelik ’n antwoord van die regering te kry, terwyl ’n eenvoudige antwoord op ons aanvanklike brief amper geen tyd sou kos nie. Dit kom voor asof daar ’n doelbewuste poging tot verduistering deur die regering oor hierdie aangeleentheid is, wat ons noop om te vra, waarom is daar hierdie gebrek aan deursigtigheid?” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Die feit dat dit regsaksie vat om die regering te forseer om belangrike vrae te beantwoord oor ’n dringende saak wat lewens red, bewys hoe min waarde die regering werklik aan deursigtigheid heg. Hierdie saak het weereens bewys hoe noodsaaklik waghonde vir die burgerlike samelewing, soos AfriForum en Solidariteit, is in die voortdurende geveg om menseregte in Suid-Afrika te beskerm,” sê Van Zyl.

“Ons is verheug dat volgehoue druk deur Solidariteit en AfriForum tot gevolg gehad het dat werkgewers, mediese fondse en ander privaat instansies nou met vrymoedigheid vervaardigers kan nader vir onderhandelinge oor die entstowwe. Dit kan deurslaggewend wees in ons stryd teen die virus. Solidariteit doen nou ’n oproep op groot werkgewers, mediese verspreiders, mediese fondse en ander rolspelers om op ’n groot skaal te begin om entstowwe aan te koop, te versprei en toe te dien. Ons doen ook ’n beroep op verskaffers om nie net sentraal aan die regering entstowwe te verskaf nie, maar aan ’n verskeidenheid van aankopers sodat daar meer rolspelers in die mark is wat sodoende ook die verbruiker in staat stel om ’n keuse uit te oefen oor die entstof wat hy of sy wil laat toedien. Ons sal nie toelaat dat die regering homself toeëien dít wat hom nie toekom nie,” sluit Hermann af.

AfriForum en Solidariteit sal aanhou om die regering aanspreeklik en verantwoordbaar te hou en sal deurlopend die waghond wees om te verseker dat die regering billike, deursigtige en wettige beleidsbesluite neem.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN