Header Artwork
Panyaza Lesufi moet jammer sê of …

Deur Marthinus Koekemoer

Dit lyk of Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys, hom uiteindelik vasgeloop het teen daardie een persoon wie hy nie verkeerd moes opgevryf het nie.

Dis nou Anéll Harper (destyds Engelbrecht), eienaar van die Koeitjies en Kalfies-kleuterskool in Centurion, wat aangedui het dat sy hom hof toe wil sleep oor uitlatings wat hy in 2016 gemaak het toe hy haar, sonder bewyse, as rassis uitgekryt het.

Harper het Lesufi twee weke tyd gegee om in die openbaar om verskoning te vra of sy gaan poog om ’n indertik te bekom om hom te dwing om dit te doen. Lesufi het oor die jare berug geraak as individu wat daarvan hou om rassewrywing en –polarisasie verder aan te blaas en beloftes te maak van skole wat in Gauteng gebou gaan word.

As hy maar laasgenoemde belofte nagekom het, kon ’n mens hom dalk baie vergewe het, maar in die meeste gevalle het daar dadels gekom wat die aanbou van skole betref.

Daarmee saam hou hy daarvan om die “klein outjie” te boelie, maar in Harper se geval het die “klein outjie” nou genoeg gehad. Die meeste van Lesufi se uitlatings en optrede is verregaande om die minste te sê.

Dink maar aan die skade en wroeging wat hy mnr. Malcolm Williams, hoof van Parktown Boys’ High, aangedoen het ná die dood van ’n gr.8-leerling van die skool tydens ‘n oriënteringskamp. Lesufi het alles in sy vermoë gedoen om Williams hiervoor afgedank te kry, maar die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO) het beslis dat Williams ná maande se skorsing heraangestel en terugwerkend vergoed moes word.

Lesufi het onder meer ook ’n skadevergoedingsaak teen AfriForum ingestel omdat die burgerregtewaghond hom glo as “korrupte individu” uitgemaak het. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan die saak daaroor dat Lesufi aanvoer AfriForum agtervolg hom en sy kinders en wil hom doodmaak en ’n klomp ander lawwe bewerings.

Lesufi is wel nog nie skuldig bevind aan korrupsie nie, maar wie kan vergeet van die meer as R400 miljoen wat sy departement verlede jaar vir die sanitering van skole betaal het of die onreëlmatige kontrak vir R30 miljoen wat aan ’n IT-firma toegeken is? Dis maar net enkele van vele gevalle waarby hy al betrek is.  Wie weet watse ander geraamtes kruip dalk nog in sy kas weg?

Vroeër vanjaar het Lesufi waarskynlik ook sy laaste bietjie geloofwaardigheid verloor toe hy moes jammer sê oor sy steun vir pille uit China wat glo vir COVID moes help, maar wat niks anders as tradisionele medisyne was nie. ’n Studie in Swede het gewys dat dié pille oneffektief is en die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA) het waarskuwingsbriewe aan ondernemings uitgereik wat dit verkoop.

Ongetwyfeld sal Lesufi tot aan die einde van die twee weke wag om op Harper se eis te reageer, indien hy dit enigsins gaan doen. ’n Mens kan maar net hoop dat hy haar om verskoning sal vra vir die skade wat hy haar en haar skool berokken het. Alhoewel dit eintlik aangenaam sal wees om hom in die hof te sien, sal die belastingbetaler sekerlik weer aan die kortste end trek met die vermorsing van fondse wat sekerlik vir iets beter aangewend kon word.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN