Header Artwork
AfriForum vat hande met die Atterbury Trust se medaljefonds

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 10 Augustus 2021 ’n medaljefonds vir die wenners van die Olimpiese en Paralimpiese Spele bekendgestel. Dít volg nadat daar wyd berig is dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) oor min of geen fondse beskik om medaljewenners vir hul prestasies te vergoed nie. AfriForum het vandeesweek verder ’n besluit geneem om hande te vat met die Atterbury Trust wat ook ’n fonds gestig het om hierdie atlete by te staan. Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, noem dat daar verskeie fondse gestig is ter ondersteuning van hierdie atlete en dat hierdie tipe reaksie deur die privaat sektor hom baie hoop gee vir die toekoms van Suid-Afrikaanse sport.

Die medaljefonds, wat deur die sanger Adam Tas op Twitter voorgestel is, word deur AfriForum bestuur. Dié organisasie het die eerste skenking van R50 000 aan die fonds gemaak en moedig die publiek, sakeondernemings, organisasies en maatskappye aan om die fonds te ondersteun. Skenkings staan tans naby die R100 000-kerf.

“Die doel van hierdie veldtog is om atlete wat op een van die grootste verhoë in sport uitnemend presteer het, te ondersteun en te vergoed vir hul harde werk en nie dat enige organisasie of instansie hierdeur uitgelig moet word nie. Die feit dat soveel individue, organisasies en maatskappye bereid is om standpunt in te neem gee my hoop dat die ontwikkeling en die toekoms van sport in Suid-Afrika mense werklik na aan die hart lê. Ons hoop dat hierdie die begin is van ’n groter inisiatief waar mense betrokke raak by projekte waar individue en instansies self verantwoordelikheid neem vir die bevordering van sport in Suid-Afrika,” sê Peters.

“Ons is baie dankbaar dat AfriForum met ons saamspan in hierdie projek en ons wil graag ‘n beroep doen op ander organisasies om hierdie skarefinansieringsprojek te ondersteun. Die Atterbury Trust is reeds vir meer as 20 jaar betrokke by opvoeding, kultuur en gemeenskapsprojekte en donateurs kan verseker wees dat alle fondse verantwoordelik aangewend word,” sê Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust.

Die mikpunt is om teen Vrydag 20 Augustus 2021 genoegsame fondse in te samel om hierdie atlete te bedank vir die hoop wat hulle vir duisende jong atlete gegee het deur hul harde werk en uitnemende prestasie. Mense wat tot die fonds wil bydra, kan dit in AfriForum se rekening inbetaal met “Medalje” as verwysing, of kan dit direk in die Atterbury Trust se rekening oorbetaal deur hierdie skakel te volg: https://atterburytrust.org/shop/spansaam/. AfriForum sal die fondse wat in sy rekening oorbetaal is teen Vrydag 20 Augustus 2021 ook in die trust se rekening oorbetaal sodat die oorbetaling gesamentlik aan die atlete gedoen kan word.

Maatskappye en organisasies wat by dié fonds betrokke wil raak kan ’n e-pos stuur na sport@antiek.afriforum.co.za.


Bank: First National Bank

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

SWIFT-kode: FIRNZAJJ

Verwysing: Medalje

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN