Header Artwork
Koster- en Swartruggens-inwoners stel Pionier Dienstemaatskappy aan om riool- en waterwerke te bestuur

Die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) wat inwoners uit Koster, Derby en Swartruggens insluit, het op 30 Maart 2021 die bestuur van die water- en rioolwerke in sowel Koster as Swartruggens aan Pionier Dienstemaatskappy oorhandig. Dit volg nadat die inwoners sowat ’n week gelede weer die water- en rioolwerke teruggeneem het nadat dit vir ’n kort tydperk weer deur die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit bestuur is.

Die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit en CoGTA het egter versuim om soos ooreengekom die uitstaande geld vir die bestuur van die werke sedert Desember 2020 te betaal. Die inwoners het weer beheer oor die werke in Koster en Swartruggens geneem ingevolge die betalingsooreenkoms wat weens wanbetaling verval het.

Carel van Heerden van die KBI verwelkom die aanstelling van Pionier en die samewerking met AfriForum om volhoubare dienste aan die gemeenskap te kan lewer. “Magalies Water se kortstondige bestuur van die werke die afgelope paar weke was katastrofies. Die teruggee van die werke sonder ’n volhoubare model vir verantwoordelike bestuur is eenvoudig nie meer ’n opsie nie. Samewerking met Pionier en AfriForum is ’n belangrike stap na die volhoubare bestuur van die werke deur die gemeenskap,” voeg van Heerden by.

Volgens Wilhelm Rochér, verteenwoordiger van Swartruggens se lede van die KBI, het die watergehalte en -bestuur merkbaar versleg sedert Magalies Water weer oorgeneem het. “Ons sou eersdaags weer terug in die hof gewees het indien ons nie die bestuur teruggeneem het nie. Ons het Pionier se aanstellingsbrief vanoggend (31 Maart) aan Joseph Mogale, munisipale bestuurder, oorhandig,” sê Rochér.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, moet volhoubare langtermynoplossings gevind word. “Die munisipaliteit en sy gekose diensverskaffer het bewys dat bestuur van die waterwerke op dieselfde manier as tevore nie werkbaar is nie. Ons sal nuwe modelle vir gemeenskapsbestuur moet ontwikkel waar die gemeenskap in sy geheel saam met alle gemeenskapsrolspelers die bestuur van hierdie dienste behartig.”

* Pionier is ’n maatskappy sonder winsoogmerk wat gestig is om gemeenskapsbetrokkenheid op ’n unieke wyse te bevorder in samewerking met munisipaliteite. Die hoofdoelwitte van die maatskappy is om selfbestuurvermoë en infrastruktuur te ontwikkel om te verseker dat volhoubare en hoëgehaltediens gelewer word.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN