Header Artwork
Jou stem en handtekening beteken ook jy staan saam

Deur Alet Rademeyer

Die onlangse opstande, verwoesting en anargie in KwaZulu-Natal en Gauteng het gewys gewone mense kan en wil saamstaan.

Ná miljarde rande se skade aan ondernemings, eiendom en infrastruktuur aangerig is, is dit gewone landsburgers wat besems opgetel en saam begin skoonmaak het. Hierdie saamstaan- en saamdoen-aksies het ’n nuwe gevoel van hoop by mense laat posvat. Dit het hulle weer onder die indruk gebring dat gemeenskappe tog ’n krag teen die regering van die dag kan wees wat duidelik nie op hul behoeftes en welsyn ingestel is nie.

Sowat 500 mense het by AfriForum se gemeenskapsentrum in Vryheid saamgetrek tydens die onluste.

Maar saamstaan beteken nie net daar waar mense fisiek byeenkom en slaggate herstel of geboue verf nie.

Daar is ’n ander manier van saamstaan waaraan die algemene publiek hulle nog te min steur. Dit is die krag van saamstaan deur jou naam en handtekening by ’n petisie te voeg.

In dié opsig is mense se stemme nou bitter nodig. Dink maar aan kwessies soos wetwysigings wat die ANC-regering oorweeg rondom vuurwapens, onteiening sonder vergoeding, die ontginning van skaliegas in die Karoo en die  Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Perpuda).

Die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens is daarop gemik om wetsgehoorsame burgers te ontwapen. Wetsgehoorsame burgers sal hulself en hul gesinne nie meer kan beskerm nie, terwyl misdadigers geen vrees meer sal hê nie en sal kan maak en breek soos hulle wil. Dit sal ’n kwade dag wees indien die wysigings deurgaan omdat almal weet dat die polisie nie burgers kan beskerm nie.

Die publiek is onlangs ook gevra om weer kommentaar in te dien oor die voorgestelde wetwysigings aan onder meer artikel 25 van die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak. Hierdie proses sloer al etlike maande en dit word voortdurend uitgestel omdat die bewoording van die wysigings knaend verander.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie, tydens ‘n publieke verhoor oor onteiening.

In die jongste verwikkeling wil die regering twee nuwe howe naamlik die Grondhof en die Grondappèlhof instel.

Die dilemma hiermee is dat grondeienaars moontlik nie billik behandel sal word nie en dat die howe meer dispute en regsuitgawes tot gevolg hê en daar verdere vertragings in die afhandeling van gronddispute sal wees.

Intussen wil die regering ook voortgaan met skaliegasboorwerk in die Karoo nadat nuwe konsepregulasies onlangs hieroor gepubliseer is. Dit sal Suid-Afrika se waterhulpbronne bedreig eerder as beskerm.

AfriForum het in 2017 opgeruk na Shell se kantore in Johannesburg oor skaliegas-boorwerk.

Die ANC het ook onlangs wysigings aan die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie gepubliseer. Dié wysigings sal verreikende gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou en dring ook direk in teen die regte van kultuur- en geloofsgemeenskappe.

Die wetsontwerp sal onder meer gelykheid en diskriminasie herdefinieer en aanspreeklikheid gaan geskep word vir onbedoelde dade of versuim wat die waardigheid van ’n persoon aantas. Dus sal beweerde oortreders se bedoelings geen gewig dra nie – slegs klaers se bewerings dat daar teen hulle gediskrimineer is.

Al bogenoemde wysigings hou enorme implikasies vir gewone mense en hul alledaagse bestaan in. Opposisiepartye en burgerlike organisasies soos AfriForum en die Solidariteit Beweging besef dit en doen alles moontlik om weerstand hierteen te bied. Hulle het egter die ondersteuning van elke individu nodig om die regering te keer. Dit is waarom dit so belangrik is dat jy en ek elke keer ons handtekening by ’n petisie voeg as dit van ons gevra word. Dit is een manier van saamstaan wat ons nie kan nalaat om te doen nie.

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN