Header Artwork
Gautengse skoleplasings 2022: AfriForum spreek kommer teenoor departement uit en raai ouers aan om flink te reageer   

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n skrywe aan die Departement van Onderwys te rig om die organisasie se kommer oor die wyse waarop die skoleplasingsproses vanjaar gaan verloop op rekord te plaas. Dít volg ná Panyaza Lesufi, LUR vir Onderwys in Gauteng, se aankondiging op 1 Augustus dat die skoleplasingsproses vandeesmaand uiteindelik ’n aanvang sal neem.

Die eerste fase van hierdie proses begin op 10 Augustus 2021, wanneer leerders wat tans in graad 7 in openbare skole is, aansoek vir plasing in hoërskole kan doen. Vanaf 13 September vanjaar kan voornemende graad 1-leerders se aansoeke ingedien word. Daar word voorsien dat die plasings teen die einde van die jaar afgehandel sal wees.

In die lig van die chaos wat vorige jare met die prosesse gegeld het – terwyl aansoeke toe al in die eerste helfte van die jaar geopen het – is AfriForum bekommerd oor die tydlyn van die plasings. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sou die ideaal wees dat skole self plasings hanteer soos in die jare voor Gauteng die aanlyn plasingstelsel in gebruik geneem het om die heen-en-weer-korrespondensie tussen skole en die departement, onduidelikheid by ouers oor aspekte soos hulle keuses van onderrigtaal en spesialisvakke, asook die akkommodasie van kinders wat tans nie in openbare skole is nie, uit te skakel.

“AfriForum sal die stelsel moniteer om seker te maak dat leerders se regte nie geskend word nie. Ons moedig ouers aan om deeglik kennis van die sperdatums te neem, flink te reageer wanneer die plasingsprosesse open en seker te maak dat hulle alle nodige inligting en dokumentasie gereed het,” sê Bailey.

AfriForum nooi die publiek uit om enige probleme wat hulle met die stelsel ondervind onmiddellik onder ons aandag te bring by onderwys@antiek.afriforum.co.za.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN