Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Die kabinet het gister in ’n verklaring aangekondig dat mense 18 jaar en ouer vanaf vandag, 20 Augustus, kan registreer om teen die COVID-19-virus ingeënt te word. Mense in dié ouderdomsgroep kan ook dadelik daarna gaan aanmeld vir inentings, die vraag is egter of hulle dit wel gaan doen?
Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal in die nasionale departement van gesondheid en die regering se entstofprogrambestuurder, het tydens ’n mediakonferensie op 12 Augustus gesê al hoe minder mense registreer vir inentings en minder entstof word toegedien sedert daar sowat twee weke terug ’n tydelike landwye tekort was.
Volgens die departement van gesondheid het nog net sowat 2,3 miljoen (21%) mense tussen die ouderdom van 35 en 49 hulself laat inent sedert dié groep op 15 Julie toegelaat is om hulle aan te meld. Die vrees is dat die volgende ouderdomsgroep ook traag gaan wees om ingeënt te word.
Luidens ’n onlangse gesamentlike verslag van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en Universiteit van Johannesburg blyk dit dat daar veral twyfel onder veral jong wit Suid-Afrikaners oor die entstof is. Die verslag toon dat slegs 52% van die wit volwassenes in die land bereid is om ’n COVID-19-ent te kry, vergeleke met driekwart van hul swart eweknieë. Kommer oor die entstof se newe-effekte, doeltreffendheid en noodsaaklikheid is as die grootste bekommernisse uitgelig.
Suid-Afrika is egter nie alleen nie. Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) se onlangse studie wys daarop dat jonger Amerikaners ook traer is om ingeënt te word. Een uit vier mense in die ouderdomsgroep van 18 tot 39 jaar oud het in ’n meningspeiling gesê hulle wil nie ingeënt word nie. Hul bekommernisse was dieselfde as jong Suid-Afrikaners s’n.
Aan die begin van die COVID-19-pandemie was ouer volwassenes die hoof bekommernis. Mediaberigte het dikwels aangedui dat jongmense meer geneig is om minder siek te wees en vinniger te herstel, dikwels sonder om gehospitaliseer te word. Dit blyk egter nie meer die geval te wees nie.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het meer as 184 000 kinders onder die ouderdom van 19 tussen Maart 2020 en Junie 2021 positief vir COVID-19 getoets. Kinders wat gehospitaliseer word het wel dikwels reeds onderliggende siektes soos asma, longkwale, diabetes, MIV of tuberkulose.
Dr. Lisa Lockerd Maragakis, ’n medeprofessor in medisyne en epidemiologie verbonde aan die Johns Hopkins University School of Medicine in Amerika, het ook verlede jaar reeds gewaarsku dat hoewel baie jongmense van COVID-19 herstel, hul nie noodwendig ernstige en blywende langtermyn simptome vryspring nie. Die Amerikaanse Instituut vir Oordraagbare Siektes het ook uitgewys dat jongmense meer geneig was om die siekte oor te dra.
Waarom twyfel ons dan steeds?
’n Groot sondebok vir entstof-skeptisisme in Suid-Afrika is heel moontlik die regering, wat van die begin af die pandemie op ’n trae en ondeursigtige wyse aangepak het. Irrasionele regulasies is streng afgedwing, hulppakkette is gesteel en boonop wou die regering hulpfondse op grond van ras toeken.
Dis tog seker dan verstaanbaar dat party van ons wil vasskop teen die een aspek waar ons nog ’n keuse het. Die vraag is egter hoe lank ons nog dié keuse gaan hê?
Die kwessie van verpligte inentings teen COVID-19, of beperkinge vir diegene wat besluit om nie ingeënt te word nie, het die afgelope paar maande ook ’n vuurwarm onderwerp geword. Alan Winde, Wes-Kaapse premier, oorweeg selfs ’n plan wat bewys vereis dat mense ten volle teen COVID-19 ingeënt is voordat hulle nagklubs en ander onthaalplekke kan binnegaan.
Sterk leierskap, deursigtigheid en deurdagte kommunikasie rondom die entstof is dus dringend noodsaaklik om die vertroue van die publiek en veral jongmense te versterk en entstofaanvaarding onder hulle te verbeter.
Die Solidariteit Beweging het onlangs omvattende navorsing gedoen ten einde mense te help om ingeligte keuses tydens die krisis en rondom die entstof te kan maak. Solidariteit meen wel mense moenie gedwing word om hulle te laat inent nie. “Jy kan nie wantroue weg verplig nie. Mense moet die vryheid hê om te kan kies,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Hermann, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Kallie Kriel, hoof van AfriForum, Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, en dr. Danie Langner, hoof van die FAK, het ook in die media gesê dat hul hulself laat inent het om hul vertroue in die entstowwe te wys.
So, hoe lyk jou naweekplanne? Sien ek jou in die entstof-tou?