Header Artwork
Hulpfondsaansoeke byna onbegonne taak, sê entrepreneur

“Meneer die President, ons het nou ons volle manne- en sakekrag nodig om ons land deur hierdie drif te trek. Hoe help jy ’n ekonomie om weer van die grond af te kom as hulp op só ’n wyse verleen word dat sekere lede van die Suid-Afrikaanse samelewing oor die hoof gesien word?”

Dit is die vraag waarmee Johan Bloem, entrepreneur, AfriForum-lid en een van duisende besigheidseienaars worstel. Hy het ook aansoek gedoen by die departement van kleinsakeontwikkeling se hulpfonds, wat spesifiek gerig is op steun aan klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO’s) wat ontwrig word weens die 21-dae-lange nasionale staat van inperking.

Bloem en sy vrou, Elsabé, is mede-eienaars van Aandbloem Gastehuis in Eldoraigne, Centurion. Hulle onderneming is al meer as 20 jaar oud en het in 2018 ’n AfriVriendelik Tinteltong Toekenning vir die soetste nagrus gewen en is ook op die AfriForum Netwerk gelys.

Bloem sê hoewel die verswakte ekonomie reeds sedert 2017 ’n negatiewe invloed op die gasvryheidsbedryf het, het die koronakrisis en die onsekerheid wat daarmee gepaard die situasie net vererger. “Die aanloop tot die staat van inperking was reeds negatief gewees. Die eerste twee maande van 2020 was besigheid maar traag, maar daar was darem duidelike tekens dat dit teen Maart sou verbeter. Met die verspreiding van die koronavirus na Suid-Afrika en die president se aankondiging, het kansellasies ingestroom.

“Gevolglik het ons slegs vir twee weke ’n inkomste gedurende Maart genereer en dit wil voorkom dat dit vir die volgende ses maande so gaan aanhou. Die oorhoofse koste om ’n gastehuis te bedryf, is baie hoog. Met geen inkomste nie, is dit ’n onmoontlike taak,” meen Bloem.

Die departement van kleinsakeontwikkeling het in Maart R500 miljoen beskikbaar gestel om kleinsakeondernemings deur ’n “vereenvoudigde aansoekproses” by te staan, maar Bloem meen dit is alles behalwe die geval.

Hy verduidelik dat hy reeds op 3 April met sy aansoek by dié departement se hulpfonds begin het. Hy het egter by die tiende ‘punt’ vasgehaak wat vereis dat jy ’n lang lys addisionele dokumente moet oplaai. Dit sluit onder meer drie maande se bankstate, laaste jaarlikse finansiële state, ’n ‘projek-uitvoerplan’ en ses maande se kontantvloei projeksies in.

“Vir die meeste van hierdie dokumente moet die hulp van ons ouditeur bekom word en sommige dokumente moet nog opgestel word. Ons is ’n klein besigheid en die ouditeur het aanbeveel dat dit beter gaan wees om die finansiële state vir die 2019/2020 finansiële jaar op te stel en in te dien wat tyd gaan neem.”

Bloem het ook aansoek probeer doen by die departement van toerisme se hulpfonds, maar dieselfde probleem ervaar omdat hulle moet wag vir hul finansiële state. Sy aansoek by die Sukuma-fonds, wat deur die miljardêr Johan Rupert befonds is, was ook onsuksesvol omdat die webtuiste nie die kapasiteit van die aansoeke kon hanteer nie.

Hy het ook daarop gewys dat elke hulpfonds ’n nuwe lys eiesoortige dokumentasie vereis en dat elke aansoekproses tydsaam en ingewikkeld word. “Jy spandeer ’n klomp tyd en loop jou dan vas met inligting wat jy nie op daardie stadium beskikbaar het nie en moet die voltooiing van die vorm dan staak, want jy kan hom nie ‘stoor’ nie.”

Hy het ook sy kommer en frustrasie uitgespreek oor die departement van toerisme se fonds se uitsluitingsmaatreëls.

“As ons aansoek by hierdie fonds nie positiewe resultate lewer nie beteken dit dat ons nêrens hulp gaan ontvang nie. As dit die benadering tot hulpverlening is, sal ons en baie ander besighede wat nie aan die departement se ‘rasvereistes’ voldoen nie, hulle deure moet sluit.”

Bloem sê voorts dat hy ook sukkel om van sy versekeringsmaatskappy te eis vir verlies aan inkomste. Hy meen dit is ook ’n lang, uitgerekte proses en die onsekerheid in die tyd van inperking vererger sake. “Ons versekeringsmaatskappy het ’n produk wat spesifiek op gastehuise gemik is en sluit ook versekering in vir omstandighede wat tot die verlies aan inkomste en die onderbreking van besigheid kan lei. Die assessor plaas egter klem op die moontlike herskedulering van besprekings, maar herbesprekings gaan nie die verlore geleenthede wat ons nou ervaar, regstel nie.”

Bloem sê dit blyk of die aansoekproses om vir hulp by hierdie fondse in aanmerking te kom ’n onbegonne taak is en dat klein besighede wat ’n wesenlike ekonomiese rol in die land speel, nie gehelp gaan word nie. “Dit is vir ons ’n groot bron van kommer dat die finansiële insette wat gelewer is om die besighede te vestig en die werkgeleenthede wat daardeur geskep is, dalk verlore mag gaan.”

AfriForum het onlangs kapsie gemaak en regstappe aangekondig nadat dit aan die lig gekom het dat beide die departemente van kleinsakeontwikkeling toerisme dit oorweeg om ondernemings op grond van ’n swartbemagtigingsgrondslag finansieel by te staan.

Die burgerregte-waghond het in Maart sowel die minister as die departement van kleinsakeontwikkeling op terme geplaas om ’n skriftelike onderneming te gee dat ras op geen wyse enige rol sal speel in hulpverlening aan ondernemings wat om verligting weens die COVID-19-pandemie by die regering aansoek doen nie. ’n aanmaningsbrief is ook aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, gestuur waarin daarop aangedring is dat die voorgestelde bepalings gebaseer op ras vir verligting vir ondernemings in die toerismebedryf geskrap word.

Op 7 April het die departement van toerisme egter ʼn skrywe uitgestuur waarin aangekondig is dat R200 miljoen in die toerisme-hulpfonds beskikbaar is en wel op grond van swartbemagtiging toegedeel sal word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie is gereed om die hof te nader om die departement van toerisme te verhoed om met hulle planne voort te gaan.

Volgens Kriel, behoort dit nie saak te maak wie die eienaars van ’n onderneming is wanneer bepaal word watter ondernemings hulp nodig het nie.

Die DA het ook vandeesweek die departement van toerisme se kriteria gekritiseer. John Steenhuisen, die DA se tussentydse leier, sê ’n rassegrondslag is gebruik om die voorwaardes vir finansiële hulp te bepaal. Hy meen dit is “onredelik en moontlik onwettig” en het  pres. Cyril Ramaphosa gevra om in te gryp en die voorwaardes te herroep.

Die vakbond Solidariteit sal ook op 28 April in die hooggeregshof in Pretoria sy saak aanvoer teen die departement van kleinsakeontwikkeling en die departement van toerisme oor dié voorvereiste vir die ontvang van noodfondse.

Die volgende hulpfondse is in die afgelope twee maande gestig om verligting in die korona-krisistyd te bring:

  • Die KMMO’s-fonds: Die departement van kleinsakeontwikkeling se hulpfonds, wat spesifiek gerig is op steun aan klein, mediumgrootte en mikro-ondernemings (KMMO’s). Aansoeke het op 2 April geopen.
  • Die Toerisme-hulpfonds: Die departement van toerisme se hulpfonds vir ondernemings in die toerismebedryf. Die eerste van die drie kategorieë sluit in ondernemings wat verblyf verskaf, soos hotels, oorde en gastehuise en die tweede kategorie is ondernemings wat in die gasvryheidsbedryf betrokke is soos restaurante. R200 miljoen is in dié fonds beskikbaar.
  • Solidarity Fund: Ramaphosa het in Maart dié fonds aangekondig. Die regering het self reeds R150 miljoen daarin gestort en dit is oop vir belastingaftrekbare skenkings. Maatskappye soos Napers het reeds R500 miljoen in die fonds gestort. Dit verskil van die kleinsakeontwikkeling se hulpfonds. Dit word deur ’n onafhanklike direksie bestuur.
  • Sukuma-fonds: Die sakeman Johann Rupert se familie het R1 miljard vir kleinsakeondernemings beskikbaar gestel. Die fonds is Maandagaand gesluit nadat aansoeke om hulp die beskikbare kapitaal oorskry het. Luidens mediaberigte het die fonds sowat 10 000 aansoeke binne drie dae ontvang.
  • Die Suid-Afrikaanse Toekomstrust: Nicky en Jonathan Oppenheimer het die Suid-Afrikaanse Toekomstrust gestig en R1 miljard daarin beskikbaar gestel. Dié trust werk saam met Absa, FNB via sy beheermaatskappy FirstRand, Nedbank en Standard Bank. Kliënte van dié banke kan aansoek doen om rentevrye lenings wat deur dié trust gefinansier word.

In hierdie tyd van nood moedig AfriForum ondernemings steeds aan om aansoek om verligting te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word.

Gaan lys en registreer ook jou onderneming gratis by www.afriforumnetwerk.co.za

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN