Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Anelle Blanckenberg, ʼn hortoloog van Orania, het onlangs uit Switserland gehoor dat die eerste van ‘n reeks wetenskaplike artikels oor haar doktorale navorsing internasionaal gepubliseer is.
Die Universiteit Stellenbosch (US) beskryf hortologie as die wetenskap, tegnologie en besigheid van intensiewe plantkweking vir menslike gebruik, van kleinskaalse groentetuine tot die aktiwiteite van ‘n multinasionale korporasie. Navorsing in dié veld fokus dikwels op die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne om ‘n voedsame produk teen die laagste moontlike koste en met die minste vermorsing te lewer.
Luidens ‘n Suid-Afrikaanse nasionale opname vir gesondheid en voeding, gaan byna ‘n kwart van Suid-Afrikaners elke aand honger bed toe. Die Wêreldwye Natuurfonds (WWF) skat dat van die 30 miljoen ton voedsel wat jaarliks in Suid-Afrika geproduseer word, sowat 10 miljoen ton tot niet gaan.
Navorsing dui ook daarop dat na-oes verliese meer as 60% van alle voedsel verliese in ontwikkelende lande verteenwoordig. Slegs 5% van die vermorste voedsel kan egter aan verbruikers toegeskryf word, terwyl die ander 95% moontlik tydens oes, verpakking, produsering en vervoer verlore gaan.
As hortoloog spesialiseer Blanckenberg in vrugtebome, tafeldruiwe, olyfbome en neutbome. As deel van haar doktorale navorsing het sy by vier gevestigde druifboerderye in die Wes-Kaap gaan kyk hoeveel tafeldruiwe tydens oestyd vermors of verlore gaan.
Sy beskryf dit as ’n lekker morsige werk, omdat sy self deur talle trosse en los korrels moes sif. “Ek was werklik geskok om te sien hoeveel los korrels, wat mooi gekleur en totaal eetbaar was, vermors word. By een plaas het tot soveel as 24% van die druiwe verlore gegaan en as jy ’n kwart van jou oes verloor nog voor dit van die plaas af is, dan is daar fout.”
Haar werk het egter vrugte (oftewel druiwe) afgewerp. ’n Jaar nadat sy terugvoer en voorstelle aan die plase oor haar navorsing gegee het, het hul oes-verliese byna gehalveer.
Haar eerste artikel oor dié navorsing is in die Volhoubaarheid-joernaal, ‘n internasionale eweknie-geëvalueerde joernaal, wat handel oor omgewings-, kulturele, ekonomiese en sosiale volhoubaarheid van mense, gepubliseer.
As wetenskaplike artikel is dit beoordeel deur ‘n paneel van drie ander senior kenners in die veld. Sy het van al drie baie positiewe terugvoer gekry wat haar baanbrekerswerk as “baie goed geskryf, werklik relevant en ’n belangrike nuwe bydrae tot die veld” beskryf het. Dit volg ook op die Staatshoofdeprys van die Afrika Unie wat sy vir haar navorsing gewen het.
Blanckenberg is gebore en getoë in Stellenbosch in die Wes-Kaap, maar na ’n vakansie in Orania twee jaar gelede het sy en haar man besluit om dit hul nuwe tuiste te maak. “Ons het gekom vir ’n vakansie en moes net twee weke bly. Toe word dit drie en naderhand vier weke en toe wou ons nooit weer teruggaan Stellenbosch toe nie.”
Sy gee tans onderwys by die plaaslike CVO-skool en hoop om later by die Bo-Karoo Opleidingsentrum betrokke te raak. “Ons gaan kuier steeds vir ons familie, maar sal self nooit weer terugkeer Stellenbosch toe nie. Ek dink mense wat Stellenbosch as idillies beskou dink net aan die natuurskoon of ou geboue, maar veiligheid het ’n groot uitdaging in die dorp geword.”
In Orania sê Blanckenberg voel sy werklik vry. “Hier kan ek vyfuur die oggend met ’n geruste hart gaan stap. Dis veilig en skoon en netjies. Niemand het diefwering nie. Dit het vir my gevoel of ek werklik vir die eerste keer tuis gekom het.”
Volgens haar kan Orania se reeds suksesvolle landbou-inisiatiewe net nóg groei en verder uitgebou word. AfriForum is ook tans besig met ’n sitrusprojek en is ook in die proses om groentetonnels in Orania op te rig vir die organisasie se boer tot bord-projek. Dié projek is geloods om ’n produksielyn te skep wat strek van die vars produk (wat direk van die boer verkry word) tot op die einde waar dit afgelewer word by families wat hulp nodig het. Alle produkte en dienste is daarop gemik om Afrikaners te ondersteun deur werk te verseker, inkomste te genereer en werk te skep.