Header Artwork
Elke dag wat Mkhize bly, is ’n klap in belastingbetalers se gesig – AfriForum 

AfriForum het vandag ’n verskerpte beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om minister Zweli Mkhize uit sy amp as Minister van Gesondheid te verwyder. AfriForum se beroep volg op maande se druk deur dié organisasie dat Mkhize nie geregtig is om op spesiale verlof met betaling te wees nie. Die burgerregteorganisasie is van mening dat Mkhize opsy moet staan en uit sy pos verwyder moet word.

“Volgens ’n verklaring van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het beide Mkhize en sy seun, Dedani, onbehoorlik voordeel getrek uit die regering se verhouding met Digital Vibes. Dít is die sterkste aanduiding nog dat AfriForum se beroep op president Ramaphosa om Mkhize uit sy amp te verwyder korrek was,” sê Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum.

“AfriForum vra reeds sedert die Digital Vibes-skandaal aan die lig gekom het dat Mkhize opsy moet staan en vervolg moet word. President Ramaphosa se versuim om teen Mkhize op te tree maak hom aandadig aan voortslepende korrupsie binne die ANC. Elke dag wat Mkhize met volle betaling met spesiale verlof is, is ’n klap in die belastingbetaler se gesig,” voeg Kruger by.

Volgens Kruger het AfriForum reeds twee weke gelede in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting ’n aansoek om toegang tot inligting ingedien om insae te verkry in die SOE se verslag aan president Ramaphosa oor die Digital Vibes-sage. “President Ramaphosa kan nie sy kop in die sand druk en hoop dat hierdie storm sal verbywaai nie. AfriForum sal ’n hofaansoek bring om die inhoud van die verslag te bekom, indien nodig.  Ramaphosa moet nou eerder kragdadig en beslissend optree om korrupsie in die ANC hok te slaan en om ’n mate van respek van die belastingbetaler behou,” sluit Kruger af.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN