Header Artwork
AfriForum se Potchefstroom-tak ruim Alexanderpark-begraafplaas op

Ongeveer 15 lede van AfriForum se Potchefstroom-tak het op 31 Julie 2021 saamgewerk om die Alexanderpark-begraafplaas op te ruim. Die lede het onder meer gras gesny, riete en bossies wat ná ’n brand in die park oorgebly het verwyder, onkruid op en om die grafte uitgehaal, bome gesnoei en rommel opgetel.

Altesaam sewe bakkievragte vol tuinvullis is weggery, sowat 50 swartsakke is met rommel gevul, ’n streepsak is met ’n halfton blare gevul, sowat 100 kg kabelomhulsel is opgetel en vyf 50 kg-sakke vol  glas en ander rommel is verwyder. Dirk Venter, die tak se portefeuljebestuurder vir infrastruktuur, het reëlings getref dat die oorblywende rommel so gou moontlik weggery word.

Dit is vir AfriForum en plaaslike inwoners belangrik om die park netjies te hou omdat dit historiese waarde inhou. Alexanderpark was die tweede begraafplaas in Potchefstroom, wat verskeie oorlogsgrafte huisves. Die graf van voormalige president M.W. Pretorius is ook in dié begraafplaas.

“Dit was lekker om saam met ’n gewillige span te werk om die park beter te laat lyk. Ek hoop dat ons meer gereeld skoonmaakprojekte kan organiseer sodat die begraafplaas nie weer in ’n oerwoud ontaard nie. AfriForum nooi mense uit wat belangstel in dié deel van ons geskiedenis om deel te vorm van ’n komitee wat vir kultuur en erfenis beplan word. Kontak gerus vir Danell de Wet by 083 751 7336 indien jy belangstel. Ons het werklikwaar mense nodig wat ons met dié belangrike taak kan help,” sê Piet Theron, waarnemende voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak.

“Baie dankie aan elkeen wat kom help het om die begraafplaas skoon te maak. Dit was lekker om soveel nuwe en jong gesigte daar te sien. Ek het baie hoop vir die toekoms as dít is hoe AfriForum-lede en veral die jongmense, deelneem aan erfenisprojekte,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

Raak by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN