Header Artwork
DWS skep verwarring oor spertyd vir kommentaar op skaliegasregulasies

AfriForum en Treasure Karoo Action Group het weer aan die Departement van Water en Sanitasie (DWS) geskryf om te versoek dat regulasies weer in die Staatskoerant gepubliseer word oor die spertyd vir kommentaar op die nuwe konsepregulasies rakende die eksplorasie vir en produksie van aanlandige onkonvensionele gasontwikkeling.

AfriForum het op 19 Mei 2021 ’n brief geskryf oor ’n verlenging van die tydperk vir die indiening van kommentaar en het op 21 Mei 2021 terugvoer van die departement ontvang waarin verklaar is dat die kommentaartyd vir die gepubliseerde regulasies 60 dae is ooreenkomstig beste praktyk vir openbare oorlegpleging. Die tydperk vir die indiening van kommentaar word egter in die Staatskoerant as 30 dae gestel. AfriForum se regspan het op 3 Junie 2021 nog ’n brief geskryf waarin versoek is dat dit dienooreenkomstig in die Staatskoerant gepubliseer moet word en dat die kommentaarproses van voor af moet begin.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, het gesê AfriForum en sy omgewingsvennoot oor baie jare, Treasure Karoo Action Group (TKAG), sal voortgaan met hulle teenkanting teen boorwerk vir skaliegas in die Karoo.

“Hierdie regulasies moet weer en korrek gepubliseer word met die wysiging tot 60 dae, aangesien ’n beduidende aantal mense wat kommentaar wou lewer, óf die spertyd gemis het en/óf nie geweet het die kommentaartydperk is eintlik 60 dae nie. Met betrekking tot ’n aangeleentheid wat ’n groot impak op waterhulpbronne in Suid-Afrika kan hê, moet die departement verseker dat daar genoeg tyd toegelaat word vir deelname aan die proses van openbare deelname. Om ’n billike kans vir deelname te verseker, moet die departement herpublisering oorweeg,” sê De Klerk.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, sê die groep het ’n geskiedenis van sukses in optrede teen die regering oor die regulasies, soos die onlangse eenparige beslissing in die Hoogste Hof van Appèl teen die Departement van Minerale Hulpbronne. “Na ons mening is dit kortsigtig om ’n stel tegniese regulasies te publiseer met ’n venster van 30 dae vir openbare kommentaar. Om dit te midde van ’n ramptoestand te doen, met meer inperkingsregulasies wat verwag word, toon ten beste ’n onverskillige arrogansie rakende behoorlike openbare oorlegpleging.”

De Klerk het besorgde burgers aangemoedig om aan te dring op hulle reg op ‘n skoon en gesonde omgewing deur by AfriForum aan te sluit en TKAG te steun.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN