Header Artwork
Dienste, werkloosheid in Mpumalanga-munisipaliteite groot rede tot kommer, wys verslag 

Mpumalanga se munisipaliteite word swak bestuur, en lewenstandaarde en dienslewering ly daaronder. Dit is sommige van die onrusbarende bevindinge in AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering se derde munisipale oudit, wat oor Mpumalanga handel.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van dié sentrum, sê interne kontroles in die provinsie se munisipaliteite is treurig. “Swak munisipale oudits en hoë onreëlmatige besteding is aan die orde van die dag – en dit ondermyn dienslewering. Die resultaat is onder meer nypende werkloosheid, gebrekkige vullisverwydering en ’n tekort aan kraanwater.”

Munisipaliteite ontvang ’n indrukspunt uit 10 in die verslag, wat gegrond is op die beskikbare inligting. “Die meeste munisipaliteite het minder as 4 uit 10 ontvang. Dit behoort die besture van hierdie munisipaliteite onrustig te stem.”

Volgens Brink is die enigste relatief positiewe geval dié van die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit (Middelburg). “Die werkloosheid, infrastruktuur en dienslewering in dié munisipaliteit is heelwat beter as in die res van die provinsie. Dit is ’n ligpunt wat al vir ’n ruk lank uitstaan in ’n provinsie waar byvoorbeeld water- en elektrisiteitsprobleme taamlik algemeen geraak het en steeds vererger. Hoewel hulle ’n pluimpie verdien, is daar egter nog baie ruimte vir verbetering en kan hulle nie op hul louere rus nie.”

Brink sê beter dienslewering is van kardinale belang vir sosiopolitieke stabiliteit. “Betogings neem toe en word dikwels deur swak dienslewering in munisipaliteite veroorsaak, of ten minste daardeur aangedryf en vererger. Die onlangse onluste is ’n waarskuwing dat swak dienslewering en die uitsigloosheid en armoede wat daarmee gepaardgaan ’n ryk teelaarde vir onstabiliteit bied. Die kruitvat het dan net ’n vonk nodig om te ontvlam.”

Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dat hierdie verslag en gegewens die noodsaak versterk dat daar gereelde verkiesings moet wees en dat dié verkiesings nie uitgestel moet word nie. “Gemeenskappe het die reg om in verkiesings te stem en die samestelling van hul munisipale rade te wysig indien hulle ontevrede is. Daar is nie ’n regsbeginsel wat uitstel toelaat nie. Dit is waarom ons as vriend van die hof toegetree het toe die Onafhanklike Verkiesingskommissie aansoek gedoen het om die verkiesing tot later as 27 Oktober uit te stel.”

Brink voer egter aan dat stem in verkiesings nie die enigste oplossing nie. “Suid-Afrika gaan binne die volgende paar maande die sesde keer in plaaslike verkiesings stem; nogtans het die situasie in munisipaliteite aanhou vererger. Sonder deurlopende gemeenskapsbetrokkenheid is verkiesings net nog ’n ritueel wat nie die omstandighede verbeter nie. Dit help wel as beter besture bereid is om saam met die gemeenskap te werk om dienslewering te verbeter.”

Die tekort aan amptelike inligting oor iets so belangrik soos munisipaliteite is ook sorgwekkend. “AfriForum is die enigste organisasie wat gereeld die gehalte van riool- en drinkwater, asook vullisterreine meet. Sonder behoorlike inligting kan die besture van munisipaliteite nie ordentlike besluite neem nie,” sluit Brink af

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN