Header Artwork
Burgers se vertroue in polisie daal met rasse skrede

Deur Alet Rademeyer

Die polisie se taak is om wet en orde te handhaaf, misdaad te bekamp, die publiek te beskerm en mense in nood te help.

Al hoe meer wetsgehoorsame landsburgers sien en beleef al hoe minder van bogenoemde. Inteendeel, die burgers van die land leef toenemend in vrees vir die polisie omdat dit by al hoe meer geleenthede lyk asof die polisie nie by magte is of oor die politieke wil beskik om anargiste en woedende skares in bedwang te bring nie. Kyk maar wat die afgelope tyd in Piet Retief buite en binne die hof afgespeel het waar vyf boere van die moord op twee mans beskuldig word.

Die oproeriges het die polisie met klippe bestook, op ’n plundertog gegaan en groot skade aan verskeie private voertuie verrig. Na verneem word, het die polisie weinig gedoen om dié slagoffers by te staan. Hulle het wel met tye rubberkoeëls gebruik om die skare uiteen te jaag, maar klaarblyklik sonder veel sukses. In al hoe meer gevalle wil dit voorkom of die polisie hierdie vorme van misdadigheid maar gelate aanvaar as ’n manier waarop mense hul misnoeë of ontevredenheid te kenne wil gee. Wat egter ook ’n feit is, is dat hierdie gebrekkige optrede daartoe bydra dat beskuldigdes se kans op ’n regverdige verhoor in die proses ernstig benadeel word aangesien die staat gaan argumenteer dat dit nie in belang van “nasionale vrede” is dat die mans in die Piet Retief-saak borgtog kry nie.

Kyk maar wat in die Coligny-saak en meer onlangs die Senekal-saak gebeur het. In die Coligny-saak is Peter Doorewaard en Philip Schutte na ’n lang onregverdige verhoor onskuldig bevind, terwyl oproeriges tydens hul verskyning ook geëis het dat hulle nie vrygelaat word nie. In Senekal het gemoedere oorgekook oor die wrede moord op Brendin Horner. In plaas daarvan dat die minister van polisie, Bheki Cele, hom hier aan die kant van die boere geskaar het, het hy olie op die vuur gegooi met sy uitlatings dat die boere se optrede skokkend en walglik is nadat ’n Nyala-polisievoertuig omgegooi is. Ronald Lamola, minister van justisie, kon ook nie vinnig genoeg na die boere kap nie en het hul optrede as “anargistiese geweld” wat nie geduld kan word nie beskryf.

Verlede week het ontevrede studente ’n Nyala-polisievoertuig by die Walter Sisulu-universiteit van Tegnologie uit protes aan die brand gesteek het. Nou waar is die twee agbare ministers nou om dit te veroordeel?

Suid-Afrika se regstelsel is tans baie baie broos en gewone mense hou asem op om te sien vir hoe lank daar nog regverdige uitsprake en geregtigheid toegepas sal word. Dubbele standaarde is aan die orde van die dag. ’n Kwade dag wag op Suid-Afrika en sy burgers as die ANC-regering én pres. Cyril Ramaphosa eenvoudig gaan aanhou met hul rasgedrewe ideologie waar minderhede toenemend verguis, ooglopend ongelyk en as tweedeklas-burgers behandel word. Iewers gaan ’n damwal breek en iewers gaan gewone landsburgers hul begin verset. Mag ons die eerste tekens hiervan hopelik vanjaar nog by die stembus tydens die plaaslike verkiesing sien.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN